Diens-sendeling
3. Die Ontwikkeling van Emosionele Herstellingsvermoë


“3. Die Ontwikkeling van Emosionele Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe: Hulpbronboekie (2020)

“3. Die Ontwikkeling van Emosionele Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe

diens-sendeling wat werk

3. Die Ontwikkeling van Emosionele Herstellingsvermoë

Sterk emosies soos vrees en bekommernis help ons om te weet dat ons oorspanne is. Lees “1. Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning” vir algehele voorstelle vir die beheer van emosionele eise. Daarbenewens kan die voorstelle hieronder help met spesifieke emosies. Indien jou emosies oorweldigend raak of ʼn lang tyd duur, praat met jou ouers of diens-sendingleiers om professionele ondersteuning te soek.

A. Aanpassing by Jou Nuwe Opdrag

  • Hersien jou redes om ʼn sending te dien. Dink aan jou sending as ʼn geskenk van dank wat jy aan die Saligmaker kan bied. Maak ʼn lys van jou seëninge. Herinner jouself aan wat jou leiers en geliefdes vir jou sou vertel oor jou sendeling-diens.

  • Wees geduldig. Dit neem oor die algemeen ongeveer ses weke om by ʼn nuwe situasie aan te pas. Stel enige besluite uit totdat jy jouself tyd gee om aan te pas. Neem een dag op ʼn slag.

  • Plaas motiverende prente. Plaas skrifture, aanhalings of prente wat jou help om jou waardes te onthou. Dit sal jou help om te fokus op jou diens en regverdige begeertes.

  • Hersien opbouende skrifture en stories. Versamel skrifture, persoonlike ervarings, aanhalings en familiestories wat jou help motiveer. Wanneer jy opbouende skrifture lees, plaas jou naam daarin. Jy kan probeer om jou naam in skrifture soos hierdie te plaas: Spreuke 3:5–6; 2 Nefi 4:28–35; Mosia 24:13–14; Alma 36:3; Helaman 5:12; en Leer en Verbonde afdelings 4, 6, en 31. (Sien ook “Adversity,” in True to the Faith [2004], 8–11.)

  • Hersien dikwels jou patriargale seëning vir leiding. Soek vir maniere waarop jou gawes en sterk punte tot jou werk kan bydra.

diens-sendeling by rekenaar

B. Oorkom Hartseer of Moedelose Gevoelens

  • Moenie uitstel nie. Om dinge uit te stel, kan tot spanning lei. Breek groot take op in kleiner stukkies. Begin met een stuk van die taak. Herinner jouself: “Al wat ek nou moet doen is ” of “Ek sal dit net vir ʼn paar minute doen en dan ʼn blaaskans neem as ek wil.”

  • Luister na musiek of sing. Kies musiek wat kalm en strelend is as jy angstig is. Musiek wat opgewek en vrolik is, kan jou help as jy nie goed voel nie. (Maak seker dat jy nie oorfone (“earbuds”) dra terwyl jy by jou opdrag is nie, tensy toestemming gegee is.)

  • Laat gaan wat jy nie kan beheer nie. Jy kan nie die verlede of ander se keuses of persoonlikhede beheer nie. Jy kan nie sommige van jou eie beperkings beheer nie. Fokus op dinge waaraan jy iets kan doen. Laat die res aan die Here oor.

  • Aanvaar die werklikheid dat sommige roetines vervelig is. Nie alles in die lewe is diep betekenisvol en opwindend nie. Vermy die skep van drama, intensiteit of konflik om verveeldheid te hanteer. Waardeer en geniet eerder die goeie om jou. Soek vir maniere om te verbeter en te dien.

  • Oefen jou brein om na die positiewe te soek. Fokus op die positiewe rondom jou. Neem ʼn paar minute elke aand om jou antwoord op een van hierdie vrae te skryf of te deel:

    • Wat was ʼn aangename verrassing vandag? Wie het gehelp om dit moontlik te maak en hoe het hulle dit gedoen?

    • Hoe het God my vandag gehelp?

    • Wat is drie nuwe dinge waarvoor ek vandag dankbaar is?

    • Hoe kan ek hierdie dinge onthou en waardeer?

    • Wie het my vandag gehelp, of vir wie het ek gehelp?

    • Wanneer het ek vandag ʼn risiko geneem wat my gehelp het om te groei? Wat het ek daaruit geleer? Hoe kan dit my help om selfs beter in die toekoms te doen?

    • Wanneer het ek vandag in iets moeilik geslaag? Hoe het ek dit gedoen? Hoe kan ek dit vier?

  • Daag jou denke uit. Bekommernis en hartseer kan jou denkpatrone verander. Indien jy negatiewe emosies voel, vra jouself af:

    • Is daar enigiets wat die waarheid van wat ek dink, ondersteun?

    • Is dit iets wat die Saligmaker wil hê ek moet dink of voel?

    • Is hierdie gedagte alles of niks—swart of wit, wen of verloor, waar of onwaar?

    • Baat dit my om op hierdie manier te dink?

    • Hoe laat hierdie gedagte my voel?

    • Wat weet ek van myself en ander wat vir my sê dit is nie waar nie?

    • Wat sou ek vir my beste vriende sê as hulle hierdie dinge gedink het?

  • Vind dinge om te geniet. Terwyl jy die waardigheid van jou roeping respekteer, herontdek humor. Geniet die skoonheid in die wêreld en let op die goedhartigheid van ander. Skep behae daarin om die Gees in jou lewe te voel.

  • Doen die basiese dinge: gebed, skriftuurstudie en diens. Wanneer jy die skrifture lees, vermy om jouself te skerp te oordeel. Fokus op die dele wat meeste op jou van toepassing is as ʼn getroue dienskneg van God.

  • Lees Alma 26 en ontdek wat Ammon gedoen het toe hy moedeloos was. Lees ook Leer en Verbonde 127:2 en let op hoe Joseph Smith hom daarvan weerhou het om ontmoedig te word. Moenie jou bekommer oor om bekommerd te wees nie, wat ʼn bose kringloop kan skep. Dit is normaal om dae te hê wanneer ons moedeloos, gespanne of eensaam voel. Die meeste van die tyd sal hierdie gevoelens verbygaan.

  • Gee aandag aan oefening en slaap. Oefening is veral belangrik in die beheer van vrese en bekommernis. Selfs al hou jy nie van oefening nie, kan dit jou help om beter te voel en meer kreatief te wees. Begin klein en bou op ʼn bietjie op ʼn slag. Om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap en om genoeg slaap te kry, is ook belangrik.

  • Praat met ʼn familielid, vriend of diens-sendingleier. Deel jou gevoelens met iemand wat vir jou omgee. Jy sal beter voel as jy verstaan dat iemand weet en vir jou omgee. Jy sal ʼn nuwe perspektief kry. Hierdie persoon kan eenvoudig net luister of kan dalk voorstelle hê wat jy kan probeer.

  • Praat met ʼn professionele persoon. Duur jou hartseer langer as ʼn paar weke? Meng dit in met jou lewe? ʼn Professionele berader kan dikwels help. Soms word voortdurende hartseer veroorsaak deur ʼn mediese toestand soos skildkliersiekte of diabetes. Hierdie moet deur ʼn dokter behandel word. Soms kan medikasie om depressie te behandel jou help om beter te voel.

  • Kry hulp as jy selfmoordneigings voel. Wonder jy soms of dit die moeite werd is om te leef? Het jy gedagtes om jouself op een of ander manier seer te maak? Dink jy soms daaraan dat dit beter sou wees as jy dood is? Gedagtes soos hierdie is nie ongewoon nie. As hierdie gedagtes jou ontstel en oor ʼn paar dae aanhou, moenie wag nie. Vertel iemand daarvan en kry hulp. Doen dit veral as jy begin met ʼn plan om jou lewe te beëindig.

    diens-sendeling en Kerkleier wat praat

C. Oorkom Selfkritiese Gevoelens

  • Fokus op wat jy reg doen en vermy dit om jouself met ander te vergelyk. Mense met uiters hoë verwagtinge van hulself kan dalk te veel op hul swakhede en mislukkings fokus. Dan, in plaas daarvan om te verbeter, kan hulle dalk hopeloos voel. Wanneer jy skrifture lees, fokus op dié wat meeste op jou van toepassing is. Jy is ʼn geliefde dienskneg van God. Soek vir bewyse van God se geduld, genade, hoop en barmhartigheid. Hy reik hierdie seëninge uit aan diegene wat Hom liefhet en ʼn begeerte het om Hom te dien.

  • Praat positief met jouself. Sien “Sê Nee vir Negatiewe Denke.”

  • Besef dat alles wat jy doen nie bogemiddeld kan wees nie. Jy wil hard werk om te verbeter en jy kan dalk baie goed met sommige dinge wees. Maar jy kan nie bogemiddeld wees in alles wat jy doen nie. Dit is net wiskunde, nie ʼn rede tot kommer nie.

  • Gee jouself ekstra krediet. Gee jouself ekstra krediet vir iets wat jy bereid is om te doen wat jy nie goed doen nie of nie altyd geniet nie. Onthou dat selfs al het jy nie daardie dinge perfek gedoen nie, het jy dit steeds gedoen. Soos jy beter word om hierdie dinge te doen, kan jy dalk vind dat jy dit geniet. Maar om tot by daardie punt te kom neem tyd en oefening, ondersteuning en ervaring.

  • Oefen om stil te wees. Fokus jou aandag weg van dit wat in jou gedagtes is en oefen om stil te wees. Erken dat jy selfkritiese gedagtes het. Maar hierdie gedagtes verteenwoordig nie wie jy werklik is nie. (Sien ook “Reageer Positief op Spanning.”)

  • Werk aan een of twee hoofdoelwitte op ʼn slag. Vermy om te veel dinge gelyktydig in jou lewe te probeer verbeter. Dit kan oorweldigend wees en tot gevoelens van mislukking lei.

  • Vertrou op Jesus Christus en sy Versoening. Ons beperkings en ontoereikendhede is nie sondes nie. Dit weerhou ons gewoonlik nie daarvan om rein en waardig van die Gees te wees nie. Jesus Christus het gely sodat ons versterk, opgehef en vergewe kan word. Die Saligmaker se krag help ons om ons swakhede en sondes te oorkom.

  • Teken inspirerende dinge in ʼn notaboek of beplanner aan. Jy kan aanteken:

    • Gunsteling skrifture.

    • Doelwitte wat jy wil bereik.

    • Persoonlike- of familiestories van terugkom van terugslae of swaarkry.

  • Luister na die Heilige Gees, nie negatiwiteit nie. As jy gedagtes het wat verkleinerend is, is dit nie van die Here nie. Ook nie gedagtes wat spottend, kwaad, sarkasties of krities is nie. Murmurering en beledigings kom ook nie van die Here nie. As jy sulke gedagtes het, probeer om dit alles neer te skryf. Skeur dan die papier op. Of herskryf die gedagtes een vir een sodat dit ʼn ware, positiewe idee stel. Voeg ʼn eerlike en liefdevolle verklaring by, van hoe die Here oor jou voel. Sê hardop: “Christus is my Voorspraak. Hy is altyd lief vir my en glo in my.”

  • Soek goeie raad. Vra jou diens-sendingleiers en ander om jou te help om te weet of jy hard genoeg probeer. Vra hulle of jy té hard probeer. Aanvaar hulle raad. Baie selfkritiese mense is nie goed om te onderskei tussen hard genoeg probeer en om té hard te probeer nie.

    diens-sendelinge by ʼn rekenaar

D. Oorkom Angstige of Ontoereikende Gevoelens

  • Geniet dit om ʼn beginner te wees wanneer jy nuut in iets is. Daar word nie van jou verwag om ʼn kenner te wees wanneer jy iets leer nie. Dit is genoeg om nuuskierig, geïnteresseerd, nederig en gewillig te wees om te probeer. Geniet dit om iets nuuts te leer!

  • Doen opgeruimd wat jy kan en vertrou God om die verskil te maak. Soms voel sendelinge nutteloos of skaam wanneer dit lyk asof ander meer suksesvol as hulle is. Satan versoek ons om aan onsself te twyfel of onsself met ander te vergelyk. Onthou dat hierdie God se werk is en Hy kies die swakkes en eenvoudiges om dit te doen. Hy het jou gekies! Vertrou Hom, want Hy vertrou jou.

  • Dink aan sukses. Bekommernis oor dinge wat dalk verkeerd kan gaan, kan ʼn manier wees om geestelik mislukkig te beoefen. In plaas daarvan om bekommerd te wees, probeer om geestelik positiewe uitkomste te beoefen. Moenie bekommerd wees oor wat dalk kan gebeur nie. Maak eerder planne om sukses te behaal. As dinge nie uitwerk soos wat jy gehoop het nie, stel jou voor dat jy uit die terugslag leer. Dink aan jouself dat jy vorentoe gaan.

  • Leef in elk geval jou waardes uit. Jy hoef nie van bekommernisse of vrees ontslae te raak nie. Jy kan steeds ʼn gelukkige lewe lei. Jy kan kies om jou waardes uit te te leef selfs te midde van bekommernis en vrees. Jy kan nie alles beheer nie. Maar dink aan een of twee dinge wat jy kan doen om jou waardes uit te leef. Beplan hoe jy ander kan dien, of toon moed in ʼn situasie wat jou bekommerd laat.

  • Moenie probeer om dít te beheer wat jy nie kan beheer nie. Om dinge te probeer beheer wat jy nie kan beheer nie, laat jou net meer buite beheer voel. Om dit te doen verhoog jou bekommernis. Fokus jou energie op dinge waaraan jy iets kan doen.

  • Vra: “Wat is die ergste wat kan gebeur?” Mense vind dikwels dat die ergste moontlike uitkoms wat hulle hul kan indink, iets is waarmee hulle kan saamleef. Dan kan hulle aanbeweeg. Maak nie saak wat gebeur nie, die Saligmaker kan jou help om dit te oorkom, sodat jy minder vrees kan voel.

  • Probeer om dinge stadiger te neem as jy geneig is om baie te jaag. As jy kalmer is, kan jy meer doeltreffend sowel as gelukkiger wees. Om dinge stadiger te neem verg oefening. Jy sal jouself op ʼn manier moet herinner om dit te doen. Plaas ʼn boodskap op jou spieël of muur. Plaas ʼn alarm op jou foon. Of bid elke oggend om hulp om te onthou om dinge stadiger te neem. Evalueer jou vordering na ʼn paar weke.

  • Moenie bekommerd raak oor bekommernis nie. Bekommernisse is ʼn normale deel van elke lewe. Om bekommerd te raak oor jou vrese sal nie help nie. Bekommernis is onaangenaam, maar dit sal verbygaan. Wanneer jy bekommerd is, sit rustig en laat die vreesgevoelens oor jou spoel. Dit sal dikwels voor lank vanself afneem.

  • Moenie terugslae vrees wanneer jy moeilike dinge doen nie. Om ʼn betekenisvolle lewe te lei, moet jy sekere risiko’s neem. Soms moet jy die onbekende instap. Die dinge wat die meeste saak maak kan moeilik wees, maar dit kan deur oefening aangeleer word. Moenie dat vrees jou verhoed om moeilike dinge te doen nie. En probeer om nie terugslae as mislukkings te sien nie. Vrees en terugslae kan beteken dat jy moeilike dinge aanpak en dapper is.

  • Hou ʼn lys van stories. Onthou om aantekeninge te maak en stories te deel. Hierdie stories kan van jou lewe wees of van die mense wat jy bewonder. Hierdie stories moet vertel hoe mense aangehou het wanneer dinge moeilik of skrikwekkend was. Dit moet vertel hoe jy of ander op terugslae of vrees gereageer het op maniere wat jy bewonder. Mense doen dikwels klein, eenvoudige dinge om voort te gaan of moedig te wees.

  • Omhels dubbelsinnigheid. Soms wil mense nie met dubbelsinnigheid of onsekerheid saamleef nie. Hulle sal eerder faal as om risiko’s te neem sonder om te weet hulle sal slaag. Jy kan nie vandag weet of jy jou doelwitte en waardes perfek sal uitleef nie. Jy kan nie weet watter probleme jy in die toekoms kan ondervind nie. Maar jy kan nou besluit om dapper, dankbaar, liefdevol en nederig te leef. Op die oomblik kan jy ooreenstemmend met jou doelwitte en drome leef. Dit is al wat enigeen van ons kan doen, en dit is genoeg. Probeer om jou aandag af te lei van die versoekings van wanhoop en bekommernis. Fokus op die hier en nou.

  • Dien. Wanneer jy ander dien, sal jy minder aan jouself dink en gelukkiger wees.

    diens-sendelinge wat praat

E. Oorkom Gevoelens om Maklik Geïrriteerd of Kwaad te Raak

  • Gee jou brein tyd om jou emosies oor te neem. Jou brein kan redeneer en goeie oordele maak. As jy kwaad of geïrriteerd raak, draai vir ʼn paar minute weg van die situasie. Haal diep asem en gee jou rasionele brein tyd om te dink en dinge uit te redeneer. Jy kan dalk tot 10 tel, oefen, na buite gaan of nuttige gedagtes kies. Jy kan dalk na kalmerende musiek luister, bepeins of bid.

  • Moenie jou woede aanmoedig nie. Jy kan kies om ander as bedreigend, onregverdig of oneerbiedigend te sien. Indien wel, is jy meer geneig om kwaad te voel. Kyk of jy eerder aan ʼn meer barmhartige verduideliking vir hul gedrag kan dink. Miskien is hulle moeg, oningelig, onseker of probeer om behulpsaam te wees. Maak die keuse om nie woede aan te moedig nie.

  • Probeer om ander mense te verstaan. Stel belang in wat ander dink en voel. Vra mense vrae en luister kalm en versigting na hulle. Vertel die ander persoon wat jy dink jy gehoor het. Vra of jy dit reg verstaan het. Indien nie, probeer weer.

  • Weerstaan die neiging om ander of jouself te blameer. As iets verkeerd loop, probeer om uit te vind wat die probleem is. Vra ander om hulp om die probleem op te los, ongeag wie se skuld dit is. Probeer om niemand te blameer wat die probleem veroorsaak het nie.

  • Wees bereid om verskoning te vra en vra wat jy kan doen om dinge reg te maak. Om verskoning te vra is ʼn teken van geestelike krag, nie swakheid nie. Wanneer jy iets verkeerd doen, neem verantwoordelikheid daarvoor. Vra hoe jy dit reg kan maak of die probleem in die toekoms kan vermy. Toon empatie vir die gevoelens van die ander persoon.

  • Wees bereid om vir jouself te lag. Om vir jouself te kan lag sal jou help om die lewe se frustrasies beter te hanteer. Opbouende humor kan help om ons gesindheid, verhoudings en gesondheid te verbeter. Hoewel dit nie gepas is om heeltyd te lag nie, kan elkeen daarby baat om meer te lag. Wanneer jy begin kwaad raak, probeer om vir jouself en jou woede te lag. Om vir jouself te lag kan goeie medisyne vir woede wees!

  • Dien diegene vir wie jy kwaad is. Pas die Saligmaker se raad toe “wees lief vir julle vyande.” Hy het gesê: “Seën hulle wat julle vervloek, doen goed aan hulle wat julle haat, en bid vir hulle wat julle met minagting misbruik en julle vervolg” (3 Nefi 12:44). Hoe kan jy iemand vir wie jy kwaad is, dien of voor bid?

  • Sorg goed vir jouself. Probeer om goed te eet, genoeg te slaap, te oefen en te bid. Hierdie dinge sal jou help om die emosionele hulpbronne te kry om frustrasie te kan hanteer.

  • Maak ʼn nuwe storie op. Dink aan die grootmoedigste verduideliking wat jy kan hoekom ander mense optree soos hulle is. Skryf dit neer.

  • Vergewe. Bestudeer Matthéüs 18:23–35. Indien beskikbaar, kyk die video “Forgive Every One Their Trespasses: The Parable of the Unmerciful Servant” (ChurchofJesusChrist.org). Dink aan hoe die gelykenis se boodskap op jou van toepassing is.

    6:6
    diens-sendeling trek karretjie

F. Oorkom Ongemotiveerde Gevoelens

  • Fokus op jou sterk punte. Wat is die waardes, talente, ondervindings en gawes wat jy na jou diens bring? Maak ʼn lys van maniere hoe jy hierdie week een van jou sterk punte op kreatiewe maniere kan gebruik. As jy sukkel om jou sterk punte raak te sien, vra ander om hulp.

  • Neem een tree op ʼn slag. Maak ʼn lys van dinge wat jy moet doen. Organiseer dit dan op jou kalender. Herinner jouself: “Al wat ek nou moet doen is .”

  • Maak dit pret! Stel interessante doelwitte om jou met jou sendeling-diens te help. Maak dit ʼn speletjie om jou doelwitte te bereik. Wees kreatief en wens jouself geluk met sukses.

  • Moenie jouself oorweldig met te veel persoonlike doelwitte op een slag nie. Stel een of twee persoonlike doelwitte op ʼn slag (soos om meer opgeruimd of minder slordig te wees). Moenie volmaaktheid verwag nie. Sluit ʼn plan in hoe jy weer op dreef sal kom wanneer jy ʼn slegte dag het. Herinner jouself dikwels daaraan hoekom jy wil verander.

  • Deel jou doelwitte met jou ouers of leiers. Hulle kan jou ondersteun en nuttige idees aanbied.

  • Besef dat motivering aksie volg. Om te begin is dikwels die moeilikste deel. Sê vir jouself: “Doen dit net vir 10 minute.” Begin dan. Jy sal dikwels meer gemotiveerd voel.

    vrou wat skrifture lees

G. Die Beheer van Seksuele of Romantiese Gevoelens

  • Ontwikkel selfbeheersing. Seksuele en romantiese gedagtes en gevoelens is normaal en Godgegewe. Maar ons moet ons gedagtes, verhoudings en gedrag onder behoorlike beheer hou. As jy hierdie as ʼn sendeling doen, sal jy in krag groei en groot seëninge ontvang. Bestudeer biddend 1 Korinthiërs 9:24–27; Mosia 3:19; Alma 38:12; en Leer en Verbonde 121:45. Slaan “Deugsaamheid” en “Kuisheid” na in die Gids tot die Skrifture (scriptures.ChurchofJesusChrist.org). Maak ʼn lys van seëninge en voordele wat na jou sal kom wanneer jy hierdie eienskappe ontwikkel.

  • Vervang die gedagte. Probeer om nie met seksuele of romantiese gedagtes en gevoelens behep te raak nie. Lei jou aandag af en raak betrokke met iets anders. Probeer om te ontspan. Sing gesange. Memoriseer skrifture en sê dit op. Fokus op dit waarvoor jy dankbaar is. Dink oor planne vir die dag. Oefen. Verbind jouself weer tot jou werk. Geniet dit en wees kreatief.

  • Vermy versoeking. Vermy plekke, omstandighede, gesprekke of mense wat versoeking uitlok. Indien jy aan ʼn uitlokkende beeld of idee blootgestel word, moenie daaraan dink nie. Verander jou geestelike kanaal na ander dinge. Gaan weg van die situasie so gou as wat jy kan.

  • Gaan voort in hoop en geloof. Indien jy sukkel om jou seksuele gevoelens gepas te beheer, God het jou steeds lief. Moet nooit jou verhouding met Hom laat vaar omdat jy nie waardig voel nie. Alhoewel jy dalk mag sukkel om hierdie gevoelens te beheer, sal Hy jou nie verstoot nie. Hy verstaan waardeur jy gaan. Hy waardeer jou pogings om versoeking te weerstaan, uit jou foute te leer en jou te bekeer. Soek raad van jou diens-sendingleier en gaan voort om daarna te streef om hierdie uitdagings te oorkom.

  • Moenie te honger, eensaam, moeg, verveeld of gespanne word nie. Al hierdie dinge kan versoeking moeiliker maak om te weerstaan. Kry ʼn versnapering. Neem ʼn kort blaaskansie van wat jy doen of doen iets anders vir ʼn wyle. Voer ʼn goeie gesprek of doen progressiewe ontspanningsoefeninge (sien Progressiewe Ontspanningsoefening).

  • Hou jouself veilig. Verstaan die reëls en riglyne rakende sosialisering met ander wat op jou van toepassing is. As jy voel dat jy seksueel aangetrokke tot iemand is, kontak jou biskop of penpresident en soek sy raad.

  • Vas en bid vir begrip en sterkte. Wanneer jy vas, ignoreer jy jou normale, gesonde hongerte na kos. Jy doen dit vir ʼn tyd om geestelike krag te soek. Vas kan vaardighede soos selfbeheer en sensitiwiteit tot die Gees ontwikkel (sien Jesaja 58:6). Dit kan jou empatie gee vir diegene wat honger is. Hierdie selfde vaardighede kan jou help om normale seksuele of romantiese gevoelens as ʼn sendeling op toepaslike maniere te beheer. Vas sal nie seksuele gevoelens uitskakel nie. Maar ʼn maandelikse vas kan jou help om krag en selfbewustheid te ontvang. Dit kan jou motiveer om hierdie gevoelens gepas te beheer.

diens-sendeling plaas voorraad op rakke

H. Die Beheer van Veranderinge en Oorgange

  • Ken jouself. Veranderinge en oorgange is moeiliker vir sommige mense as ander. As verandering veral moeilik is vir jou, laat mense weet hoe hulle kan help.

  • Dink aan ander oorgange wat jy ervaar het. Wat het jy geleer? Wat het jou op ander tye gehelp om dinge te hanteer? Herken jou suksesse en jou vermoëns. Watter van daardie dinge kan jou nou help? Wat anders kan jy probeer?

  • Skryf redes neer. Skryf neer wat jy weet oor hoekom hierdie verandering nodig is. Verwys dikwels terug na die lys. Om die redes vir die verandering te verstaan, kan jou help om minder gefrusteerd te voel.

  • Onthou wat nié verander het nie. Maak ʼn lys van wat verander het en wat nie verander het nie. Probeer om die tweede lys so lank as moontlik te maak.

  • Maak ʼn plan. Skep ʼn plan hoe om jouself te help om die verandering te beheer. Skryf die stappe van jou plan neer. Praat ook met ander wat jou goed ken. Hulle kan jou ondersteun terwyl jy jou plan uitvoer.

  • Dink daaroor hoe om kalmer te voel. Maak ʼn lys van dinge wat jy kan doen om kalmer te voel. Lees deur hierdie lys voor, tydens en ná die verandering.

  • Neem een tree op ʼn slag. Wanneer jy voor ʼn groot oorgang te staan kom, onthou dit: jy hoef nie alles op een slag uit te werk nie. Wat is die eerste besluit wat gemaak moet word? Wat kan ʼn eerste stap wees? ʼn Volgende stap?