Diens-sendeling
5. Die Ontwikkeling van Verstandelike Herstellingsvermoë


“5. “Die Ontwikkeling van Verstandelike Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe: Hulpbronboekie (2020)

“5. Die Ontwikkeling van Verstandelike Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe

diens-sendelinge stamp vuis

5. Die Ontwikkeling van Verstandelike Herstellingsvermoë

Sendingwerk stel baie eise aan mense, en hierdie eise raak elke persoon anders. Die vermoëns wat jy het, sal jou help om God se werk te volbring. Jy kan Hom vertrou om die verskil te maak tussen jou vermoëns en wat nodig is. Die onderstaande voorstelle kan jou help met sommige probleme. Verwys na die afdeling “1. Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning” vir bykomende idees.

A. Leer ʼn Nuwe Opdrag

Dit kan spanningsvol wees om met ʼn nuwe opdrag te begin. Wees geduldig met jou toesighouer, jou kollegas en jouself. Probeer om nie ontmoedig of ontsteld te raak terwyl jy jou opdrag leer nie. Jy sal gewoonlik dinge binne ʼn paar dae uitwerk. Hier is ʼn paar wenke om jou te help wanneer jy jou opdrag begin. Jy kan hierdie dinge met jou diens-sendingleier bespreek.

  • Setel in. Raak vertroud met jou omgewing. Handel alle papierwerk af. Stel jou werksplek op. Leer die name van jou kollegas en toesighouers ken.

  • Hou goeie moed. Neem ʼn besluit om elke dag te werk aan ʼn positiewe houding by die werk. Selfs as jy moeg of onseker is oor wat verwag word, kies om vriendelik te wees. Wees positief, selfs al geniet jy nie jou take of die mense met wie jy werk nie. Dit sal jou help om suksesvol te wees. Dit sal diegene rondom jou help om jou te leer vertrou en te waardeer.

  • Daag op. Wees betyds vir alle opdragte, gepas aangetrek en gereed om te begin. Soek maniere om te help en betrokke te raak. Laat mense sien dat jy bereid is om nuwe dinge te probeer en nuwe vaardighede te beoefen.

  • Studeer. As jy video’s of geskrewe materiaal ontvang wat jou werk verduidelik, moet jy dit noukeurig bestudeer. Neem aantekeninge oor dinge wat jy moet onthou. Wees veral bewus van veiligheidsreëls. Neem ook kennis van reëls oor privaatheid of vertroulikheid. Leer die standaarde wat verwag word om jou werk suksesvol te doen.

  • Vra vrae. Vra jou toesighouer en kollegas beleefd oor enigiets wat jy nie verstaan nie. Jy kan ʼn klein notaboek saamdra om vrae en antwoorde neer te skryf waarna jy later kan verwys. Wees geduldig met diegene wat jou oplei as hulle nie dinge helder verduidelik nie. Probeer om te herhaal wat jy gehoor het. Vra: “Het ek dit reggekry? Is daar nog iets?” Vra jou toesighouer oor sy of haar verwagtinge van jou. Vra wat die belangrikste is om jou werk goed te doen.

  • Soek vir ongeskrewe reëls. Elke werksplek het sy eie manier van dinge doen. Sommige van hierdie dinge is nie neergeskryf nie, alhoewel dit belangrik is. Sulke ongeskrewe reëls kan insluit hoe om meningsverskille te hanteer en waar en wanneer om te eet. Ander reëls kan insluit hoeveel kreatiwiteit aanvaarbaar is en wat om te doen met werk wat nie voltooi is voordat die werksdag eindig nie. Let op hierdie ongeskrewe reëls en probeer om dit te volg.

  • Wees geduldig met jouself en ander. Jy sal foute begaan! Dit is deel daarvan om enigiets nuuts te leer. Vra ander om verskoning en vra hulle hoe jy jou foute kan regstel. Vind uit wat jy volgende keer moet doen en probeer weer. Moenie oor foute tob nie—joune of enigiemand anders s’n nie. Leer en beweeg vorentoe met ʼn positiewe houding. Jy sal leer om jou werk goed te doen.

    diens-sendelinge by rekenaars

B. Bly Georganiseerd met Doelwitte en Planne

  • Hou ʼn dagboek of beplanner by. Aan die begin van elke week, plaas jou afsprake in jou dagboek of beplanner. Sluit werksopdragte, kerkvergaderings en ander verpligtinge in, soos om skrifture te lees en te bid. Skryf name, afsprake, doelwitte en lyste neer van dinge wat jy moet doen.

  • Moenie net op jou geheue staatmaak nie. Gaan jou dagboek of beplanner deur die dag na. Plaas herinneringsnotas op die deur, op die yskas of by jou bed vir belangrike dinge wat jy moet doen. Stel herinnerings op jou foon.

  • Sit alles wat jy die volgende dag nodig het op ʼn spesifieke plek. Doen dit voor jy gaan slaap. Dan sal jy nie iets belangriks vergeet nie. Hou jou belangrike dinge op dieselfde plek. Op daardie manier sal jy nie tyd mors om na dit te soek nie.

    sendelinge wat saam studeer
  • Vra hulp om dinge te onthou. Wanneer jy iets moet onthou wat nie deel van jou gewone roetine is nie, vra ander om jou te help onthou. Jy kan sê: “Ek weet dit is die soort ding wat ek waarskynlik sal vergeet. Kan jy my herinner as ek vergeet?”

  • Bly gefokus op wat jy doen. Wanneer jy agterkom dat jy van ʼn sendingtaak afgelei word, moet jy jou aandag op jou taak weer vestig. Doen dit so dikwels as wat jy nodig het.

  • Besluit oor doelwitte. Soos dit vir jou nuttig is, definieer doelwitte in elke kategorie hieronder. Maak ʼn plan vir wat jy gaan doen. Voeg jou plan elke week by jou dagboek of beplanner.

    • Fisiese doelwitte soos oefening, die ontwikkeling van gesonde eet- en slaapgewoontes, die versorging van jou kamer of werksomgewing, die beheer van geld, om tuis te help of sport te speel.

    • Emosionele doelwitte soos om tyd te beplan vir rus of bepeinsing, meditasie, skryf oor gevoelens of ervarings, ruskanse te neem of tyd in die natuur deur te bring.

    • Sosiale doelwitte soos om dinge saam met vriende en familie te doen, aan jong enkelvolwasse aktiwiteite deel te neem, ander te help, aan familiegeskiedenis te werk, familielede oor hul lewens uit te vra of sosiale vaardighede te leer en te beoefen.

    • Verstandelike doelwitte wat jou ʼn beter dienaar van die Here sal maak, soos om klasse te loop, ʼn taal of ʼn musiekinstrument te leer, te lees, werksbelange te ondersoek of werksvaardighede te ontwikkel.

    • Geestelike doelwitte soos om meer opreg te bid, die skrifture deegliker te bestudeer, op geestelike influisteringe te reageer, in jou wyk of tak deel te neem, die tempel by te woon of ander buite jou sendingtoewysings te dien.

  • Gee jou dag aan die Here oor. Doen wat jy kan om jou tyd te skeduleer en gebruik dit goed. Dan, aan die begin van jou dag, gee jou dag aan die Here oor. Vra die Here om dit moontlik te maak vir alles om vir jou ten goede mee te werk. Wees deur die loop van die dag buigsaam en reageer op die Gees.

    sendelinge in ʼn woud

C. Oorkom die Gevoel van om Nie in Staat te Wees Nie

  • Behou jou sin vir humor wanneer jy ʼn fout maak. Vra om verskoning vir wat jy verkeerd gedoen het en probeer dan weer. Onthou dat om bereid te wees om verskoning te vra, ʼn teken van herstellingsvermoë en krag is.

  • Vind die krag in ʼn swakheid. Soms help dit ons om sterk punte soos medelye en empatie te ontwikkel wanneer ons ʼn swak punt het. As ons daarna streef om ʼn swakheid te oorkom, kan dit ons geduld, nederigheid en vertroue in die Here leer. Soms het ʼn swakheid soos om maklik afgelei te word, ʼn krag wat daarmee gepaard gaan. Jy sal dalk dinge opmerk wat ander mis. Soek vir die sterk punte wat uit jou swakhede kan kom.

  • Werk aan jou swakhede. Werk aan een swakheid op ʼn slag sodat jy nie oorweldig word nie. Kry idees van ander. Bid vir leiding en hulp. Maak ʼn plan om jou swakheid te oorkom. Dink oor struikelblokke wat jy waarskynlik sal teëkom, en dink aan hoe om dit te hanteer. Oefen. Pas jou plan aan indien nodig. Wees geduldig.

  • Herfokus jou aandag op jou persoonlike sending. Is jy jaloers op iemand anders se vaardighede? Plaas jou energie in die ontwikkeling van jou sterk punte sodat dit bydra tot die werk. Hierdie is jou sending.