Skrifture
2 Nefi 20


Hoofstuk 20

Die vernietiging van Assur is ’n voorafskaduwing van die vernietiging van die bose by die Tweede Koms—Min mense sal oorbly nadat die Here weer gekom het—Die oorblyfsel van Jakob sal terugkeer op daardie dag—Vergelyk Jesaja 10. Ongeveer 559–545 v.C.

1 Wee hulle wat onregverdige dekrete uitvaardig, en wat verdrukking skrywe wat hulle voorgeskryf het.

2 Om die behoeftiges van geregtigheid weg te wys, en om die reg weg te neem van die armes van my volk, sodat weduwees hulle prooi mag wees, en sodat hulle die wese kan beroof!

3 En wat sal julle doen op die dag van besoeking, en in die verwoesting wat sal kom van ver? na wie sal julle vlug om hulp? en waar sal julle jul heerlikheid laat?

4 Sonder My sal hulle neerbuig onder die gevangenes, en hulle sal val onder die dooies. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is steeds uitgestrek.

5 O Assur, die roede van my toorn, en die staf in hulle hand is hulle verontwaardiging.

6 Ek sal hom stuur teen ’n skynheilige nasie, en teen die volk van my toorn sal ek hom bevel gee om die buit te neem, en om die prooi te neem, en om hulle te vertrap soos die modder van die strate.

7 Nietemin, hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar in sy hart is dit om te vernietig en om nasies af te sny, nie min nie.

8 Want hy sê: Is my prinse nie almal saam konings nie?

9 Is Kalno nie soos Kárkemis nie? Is Hamat nie soos Arpad nie? Is Samaría nie soos Damaskus nie?

10 Soos my hand die koninkryk van die afgode gestig het, en wie se gesnede beelde dié oortref het van Jerusalem en Samaría;

11 Sal ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, so doen aan Jerusalem en aan haar afgode nie?

12 Daarom, dit sal gebeur dat wanneer die Here al sy werke voltooi het op die Berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek die vrug van die grootsheid van die hart van die koning van Assur en die heerlikheid van sy hoogmoedige blik straf.

13 Want hy sê: Deur die krag van my hand en deur my wysheid het ek hierdie dinge gedoen; want ek is verstandig; en ek het die grense van die volke verskuiwe, en het hulle skatte geroof; en ek het die inwoners neergewerp soos ’n dapper man.

14 En my hand het gevind soos ’n nes die rykdom van die volke; en soos een eiers bymekaarmaak wat agtergebly het, het ek die hele aarde bymekaargemaak; en daar was niemand wat ’n vlerk verroer, of ’n mond oopgemaak, of gepiep het nie.

15 Sal die byl hom beroem teen hom wat daarmee kap? Sal die saag homself vergroot teen hom wat dit skud? Asof die roede homself sal skud teen hulle wat hom oplig, of asof die staf homself sal oplig asof dit nie hout is nie!

16 Daarom sal die Here, die Here van die Leërskare, onder sy vettes ’n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy ’n brand aanstook soos die brand van ’n vuur.

17 En die Lig van Israel sal soos ’n vuur wees, en sy Heilige Een soos ’n vlam; en dit sal brand en sal sy distels en sy dorings verteer in een dag;

18 En sal die heerlikheid van sy woud verteer, en van sy vrugbare land, beide siel en liggaam; en hulle sal wees soos wanneer ’n vaandeldraer flou word.

19 En die res van die bome in sy woud sal min wees, sodat ’n kind hulle mag skrywe.

20 En dit sal gebeur in dié dag, dat die oorblyfsel van Israel, en diesulkes wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer sal steun op hom wat hulle geslaan het nie, maar sal steun op die Here, die Heilige Een van Israel, in waarheid.

21 Die oorblyfsel sal terugkeer, ja, naamlik die oorblyfsel van Jakob, na die magtige God toe.

22 Want alhoewel U volk Israel soos die sand van die see is, tog sal ’n oorblyfsel van hulle terugkeer; die verdelging wat beveel is, sal oorvloei van geregtigheid.

23 Want die Here God van die Leërskare sal ’n verdelging voltrek, wat beveel is, in die hele land.

24 Daarom, so sê die Here God van die Leërskare: O my volk wat woon in Sion, wees nie bevrees vir die Assiriër nie; hy sal jou slaan met die roede, en sal sy roede lig teen jou volgens die wyse van Egipte.

25 Want nog ’n baie klein rukkie, en die verontwaardiging sal ophou, en my toorn in hul vernietiging.

26 En die Here van die Leërskare sal ’n gésel maak vir hom volgens die slagting van Midian by die rots van Oreb; en soos sy staf was oor die see, so sal Hy dit oplig volgens die wyse van Egipte.

27 En dit sal gebeur in dié dag dat sy las weggeneem sal word vanaf jou skouer, en sy juk vanaf jou nek, en die juk sal vernietig word vanweë die salwing.

28 Hy het tot by Ajat gekom; hy het getrek na Migron; in Migmas het hy sy waens agtergelaat.

29 Hulle trek oor die bergpas; hulle het hul verblyf gemaak by Geba; Rama is bevrees; Gíbea van Saul het gevlug.

30 Verhef die stem, o dogter van Gallim; laat dit gehoor word tot by Lais, o arme Ánatot.

31 Madmena het gevlug, die inwoners van Gebim maak hulself bymekaar om te vlug.

32 Nog sal hy in Nob agterbly dié dag; hy sal sy hand skud teen die berg van die dogter van Sion, die heuwel van Jerusalem.

33 Kyk, die Here, die Here van die Leërskare, sal die takke met vrees afkap; en die hoës van aansien sal afgekap word; en die hoogmoedige sal verootmoedig word.

34 En Hy sal die struikgewasse afkap van die woude met yster, en Libanon sal val deur ’n Magtige Een.