Hoofstuk 14
Alma en Amulek word opgesluit in die gevangenis en geslaan—Die gelowiges en hulle heilige skrifture word verbrand deur vuur—Hierdie martelaars word deur die Here in heerlikheid ontvang—Die gevangenis se mure word geskeur en val—Alma en Amulek word bevry, en hulle vervolgers word gedood. Ongeveer 82–81 v.C.
1 En dit het gebeur nadat hy ’n einde gemaak het om met die volk te spreek, het baie van hulle in sy woorde geglo, en begin om te bekeer, en om die skrifture te ondersoek.
2 Maar die grootste deel van hulle was begerig dat hulle Alma en Amulek mag vernietig; want hulle was kwaad vir Alma, vanweë die duidelikheid van sy woorde aan Zeesrom; en hulle het ook gesê dat Amulek vir hulle gelieg het, en uitgevaar het teen hulle wet, en ook teen hul regsgeleerdes en hul regters.
3 En hulle was ook kwaad vir Alma en Amulek; en omdat hulle so duidelik getuig het teen hul boosheid, het hulle gesoek om hulle in die geheim dood te maak.
4 Maar dit het gebeur dat hulle dit nie gedoen het nie, maar hulle het hul geneem en vasgebind met sterk toue, en hulle voor die hoofregter van die land geneem.
5 En die volk het na vore gekom en teen hulle getuig—en getuig dat hulle uitgevaar het teen die wet, en hulle regsgeleerdes en regters van die land, en ook van al die mense wat in die land was; en ook getuig dat daar net een God was, en dat Hy sy Seun sou stuur onder die volk maar dat Hy hulle nie sou red nie; en baie sulke dinge het die volk teen Alma en Amulek getuig. Nou dit is gedoen voor die hoofregter van die land.
6 En dit het gebeur dat Zeesrom verbaas was oor die woorde wat gespreek is; en hy het ook geweet aangaande die blindheid van die verstande, wat hy veroorsaak het onder die volk deur sy leuenagtige woorde; en sy siel het begin om verskeur te word onder ’n besef van sy eie skuld; ja, hy het begin om omring te word deur die pyne van die hel.
7 En dit het gebeur dat hy tot die volk begin roep het, en gesê het: Kyk, ek is skuldig, en hierdie manne is vlekkeloos voor God. En hy het vir hulle begin pleit van daardie tyd af aan; maar hulle het teen hom uitgevaar, en gesê: Is jy ook van die duiwel besete? En hulle het op hom gespoeg, en hom uitgewerp uit hulle midde, en ook al diegene wat in die woorde geglo het wat deur Alma en Amulek gespreek is; en hulle het hulle uitgewerp, en manne gestuur om klippe na hulle te gooi.
8 En hulle het hul vroue en kinders bymekaargebring, en wie ook al geglo het of geleer is om te glo in die woord van God, dié het hulle in die vuur laat werp, en hulle het ook hulle kronieke na vore gebring wat die heilige skrifture bevat het, en hulle ook in die vuur gewerp, dat hulle verbrand en deur vuur vernietig mag word.
9 En dit het gebeur dat hulle Alma en Amulek geneem het, en hulle gebring het na die plek van marteling, sodat hulle die vernietiging kon aanskou van diegene wat deur die vuur verteer is.
10 En toe Amulek die pyne sien van die vroue en kinders wat in die vuur verteer word, was hy ook gepynig; en hy het aan Alma gesê: Hoe kan ons hierdie verskriklike toneel aanskou? Daarom, laat ons ons hande uitstrek, en die krag van God wat in ons is uitoefen, en hulle uit die vlamme red.
11 Maar Alma het aan hom gesê: Die Gees dwing my dat ek nie my hand moet uitstrek nie; want kyk, die Here ontvang hulle tot Homself, in heerlikheid; en Hy laat toe dat hulle hierdie ding mag doen, of dat die mense hierdie ding mag doen aan hulle, volgens die hardheid van hulle harte, sodat die oordele wat Hy op hulle in sy toorn sal uitoefen, regverdig mag wees; en die bloed van die onskuldiges sal staan as ’n getuienis teen hulle, ja, en kragtig teen hulle op die laaste dag uitroep.
12 Nou het Amulek aan Alma gesê: Kyk, miskien sal hulle ons ook verbrand.
13 En Alma het gesê: Laat dit wees volgens die wil van die Here. Maar, kyk, ons werk is nie klaar nie; daarom verbrand hulle ons nie.
14 Nou het dit gebeur dat toe die liggame van diegene wat in die vuur gewerp, verteer is, en ook die kronieke wat saam met hulle ingewerp is, het die hoofregter van die land gekom en voor Alma en Amulek gaan staan, terwyl hulle vasgebind was; en hy het hulle met sy hand op hulle wange geslaan, en aan hulle gesê: Na wat julle gesien het, sal julle weer vir hierdie volk preek, dat hulle in ’n poel van vuur en swael gewerp sal word?
15 Kyk, julle sien dat julle geen mag gehad het om diegene te red wat in die vuur gewerp was nie; nóg het God hulle gered alhoewel hulle van julle geloof was. En die regter het hulle weer geslaan op hulle wange, en gevra: Wat sê julle vir julleself?
16 Nou was hierdie regter volgens die orde en geloof van Nehor, wat Gídeon gedood het.
17 En dit het gebeur dat Alma en Amulek hom niks geantwoord het nie; en hy het hulle weer geslaan, en hulle aan die amptenare oorgelewer om in die gevangenis gewerp te word.
18 En toe hulle drie dae in die gevangenis gewerp was, het daar baie regsgeleerdes, en regters, en priesters, en leraars gekom, wat van die geloof van Nehor was; en hulle het in die gevangenis gekom om hulle te sien, en hulle het hulle uitgevra oor baie woorde; maar hulle het hulle niks geantwoord nie.
19 En dit het gebeur dat die regter voor hulle gestaan en gesê het: Hoekom beantwoord julle nie die woorde van hierdie mense nie? Weet julle nie dat ek mag het om julle oor te lewer aan die vlamme nie? En hy het hulle beveel om te spreek; maar hulle het niks geantwoord nie.
20 En dit het gebeur dat hulle vertrek het en hulle weë gegaan het, maar hulle het weer die volgende dag gekom; en die regter het hulle weer op hulle wange geslaan. En baie het ook na vore gekom, en hulle geslaan, en gesê: Sal julle weer staan en hierdie volk oordeel, en ons wet veroordeel? As julle sulke groot mag het, waarom bevry julle nie julself nie?
21 En baie sulke dinge het hulle aan hulle gesê, terwyl hulle op hul tande gekners het teen hulle, en op hulle gespoeg, en gesê het: Hoe sal ons lyk wanneer ons verdoem is?
22 En baie sulke dinge, ja, allerhande sulke dinge het hulle aan hulle gesê; en so het hulle hul bespot vir baie dae. En hulle het voedsel van hulle weerhou, sodat hulle honger mag ly, en water, sodat hulle dors mag ly; en hulle het ook van hulle hul klere weggeneem dat hulle naak was; en so is hulle vasgebind met sterk toue, en in die gevangenis gehou.
23 En dit het gebeur nadat hulle so gely het vir baie dae lank, (en dit was op die twaalfde dag, in die tiende maand, in die tiende jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi) dat die hoofregter oor die land Ammoniha en baie van hulle leraars en hulle regsgeleerdes in die gevangenis ingegaan het waar Alma en Amulek vasgebind was met toue.
24 En die hoofregter het voor hulle gestaan, en hulle weer geslaan, en aan hulle gesê: As julle die mag van God het, bevry julleself van hierdie bande, en dan sal ons glo dat die Here hierdie volk sal vernietig volgens julle woorde.
25 En dit het gebeur dat hulle almal na vore gekom en hulle geslaan het, en dieselfde woorde gesê het, en wel tot die laaste toe; en toe die laaste met hulle gespreek het, was die krag van God oor Alma en Amulek, en hulle het opgestaan en op hulle voete gestaan.
26 En Alma het geroep, en gesê: Hoe lank sal ons hierdie groot verdrukking verduur, o Here? O Here, gee ons krag volgens ons geloof wat in Christus is, en wel tot bevryding. En hulle het die toue gebreek waarmee hulle gebind was; en toe die mense dit sien, het hulle begin om te vlug, want die vrees vir vernietiging het oor hulle gekom.
27 En dit het gebeur dat hulle vrees so groot was, dat hulle neergeval het op die aarde, en nie die buitenste deur van die gevangenis bereik het nie; en die aarde het geweldig geskud, en die mure van die gevangenis is in twee geskeur sodat hulle op die aarde geval het; en die hoofregter en die regsgeleerdes, en die priesters, en die leraars, wat vir Alma en Amulek geslaan het, is gedood deur die val daarvan.
28 En Alma en Amulek het uit die gevangenis uitgekom en hulle was nie beseer nie; want die Here het mag aan hulle gegee, volgens hulle geloof wat in Christus was. En hulle het dadelik uit die gevangenis uitgekom; en hulle was bevry van hulle bande; en die gevangenis het op die grond neergestort en elke siel binne die mure daarvan, behalwe Alma en Amulek, is gedood; en hulle het dadelik die stad binnegekom.
29 Nou, omdat die mense ’n groot geraas gehoor het, het hulle aangehardloop gekom in skares om die oorsaak daarvan te weet; en toe hulle Alma en Amulek uit die gevangenis sien uitkom, en dat die mure daarvan op die grond neergestort het, is hulle met groot vrees getref, en het gevlug van die teenwoordigheid van Alma en Amulek af, net soos ’n bok met haar kleintjies van twee leeus af vlug; en so het hulle van die teenwoordigheid van Alma en Amulek af gevlug.