Hoofstuk 27
Die Here beveel Ammon om die volk van Anti-Nefi-Lehi na veiligheid te lei—Toe hy Alma ontmoet, put Ammon se vreugde sy krag uit—Die Nefiete gee aan die Anti-Nefi-Lehi’s die land Jerson—Hulle word die mense van Ammon genoem. Ongeveer 90–77 v.C.
1 Nou het dit gebeur dat toe daardie Lamaniete wat in die stryd opgetrek het teen die Nefiete gevind het, na hulle baie getwis het om hulle te vernietig, dat dit tevergeefs was om hulle vernietiging te soek, het hulle weer teruggekeer na die land Nefi.
2 En dit het gebeur dat die Amalekiete, vanweë hulle verliese, uitermate vertoornd was. En toe hulle sien dat hulle hul nie kon wreek op die Nefiete nie, het hulle begin om die volk in toorn op te stook teen hulle broers, die volk van Anti-Nefi-Lehi; daarom het hulle weer begin om hulle te vernietig.
3 Nou het hierdie volk weer geweier om hulle wapens op te neem, en hulle het hulself toegelaat om doodgemaak te word volgens die begeertes van hulle vyande.
4 Nou toe Ammon en sy broers hierdie werk van vernietiging sien onder diegene wat hulle so innig liefgehad het, en onder diegene wat vir hulle so innig lief was—want hulle is behandel asof hulle engele was wat deur God gestuur is om hulle te red van ewigdurende vernietiging—daarom, toe Ammon en sy broers hierdie groot werk van vernietiging sien, het hulle innig jammer vir hulle gevoel, en hulle het aan die koning gesê:
5 Laat ons hierdie volk van die Here bymekaarmaak, en laat ons afgaan na die land Zarahemla na ons broers, die Nefiete, en vlug uit die hande van ons vyande, sodat ons nie vernietig word nie.
6 Maar die koning het aan hulle gesê: Kyk, die Nefiete sal ons vernietig, vanweë die baie moorde en sondes wat ons teen hulle gepleeg het.
7 En Ammon het gesê: Ek sal gaan en vir die Here vra, en as Hy aan ons sê, gaan af na ons broers, sal julle gaan?
8 En die koning het aan hom gesê: Ja, as die Here aan ons sê gaan, sal ons afgaan na ons broers, en ons sal hulle slawe wees totdat ons aan hulle vergoed het vir die baie moorde en sondes wat ons teen hulle gepleeg het.
9 Maar Ammon het aan hom gesê: Dit is teen die wet van ons broers, wat daargestel is deur my vader, dat daar enige slawe onder hulle sal wees; daarom laat ons afgaan en staatmaak op die barmhartighede van ons broers.
10 Maar die koning het aan hom gesê: Vra vir die Here, en as Hy aan ons sê, gaan, sal ons gaan; anders sal ons omkom in die land.
11 En dit het gebeur dat Ammon gegaan en vir die Here gevra het, en die Here het aan hom gesê:
12 Neem hierdie volk uit die land uit, sodat hulle nie omkom nie; want Satan het ’n groot houvas op die harte van die Amalekiete, wat die Lamaniete opstook tot toorn teen hulle broers om hulle te dood; daarom, gaan uit hierdie land uit; en geseënd is hierdie volk in hierdie geslag, want Ek sal hulle bewaar.
13 En nou het dit gebeur dat Ammon gegaan het en die koning al die woorde vertel het wat die Here aan hom gesê het.
14 En hulle het al hulle mense bymekaargemaak, ja, die hele volk van die Here, en het al hulle kleinvee en grootvee bymekaargemaak, en vertrek uit die land, en gekom in die wildernis wat die land Nefi geskei het van die land Zarahemla, en oorgekom naby die grense van die land.
15 En dit het gebeur dat Ammon aan hulle gesê het: Kyk, ek en my broers sal uitgaan in die land Zarahemla, en julle sal hier bly totdat ons terugkeer; en ons sal die harte van ons broers ondersoek, of hulle wil hê dat julle in hulle land moet inkom.
16 En dit het gebeur dat terwyl Ammon uitgaan in die land in, dat hy en sy broers vir Alma ontmoet het, oorkant in die plek waarvan gespreek is; en kyk, dit was ’n vreugdevolle ontmoeting.
17 Nou was die vreugde van Ammon so groot en wel dat hy vervul was; ja, hy was oorstelp deur vreugde in sy God, en wel tot die uitputting van sy krag; en hy het weer op die aarde neergeval.
18 Nou was dit nie uitnemende vreugde nie? Kyk, dit is vreugde wat geeneen ontvang behalwe die ware bekeerde en nederige soeker van geluk nie.
19 Nou, was die vreugde van Alma by die ontmoeting van sy broers waarlik groot, en ook die vreugde van Aäron, van Omner, en Himni; maar kyk, hulle vreugde was nie sodanig dat dit hulle krag oorskry het nie.
20 En nou het dit gebeur dat Alma sy broers teruggelei het na die land Zarahemla; naamlik na sy eie huis. En hulle het gegaan en die hoofregter al die dinge vertel wat met hulle gebeur het in die land Nefi, onder hulle broers, die Lamaniete.
21 En dit het gebeur dat die hoofregter ’n aankondiging uitgestuur het dwarsdeur die land, en verlang het om die stem van die volk te verneem aangaande die toelating van hulle broers, wat die mense van Anti-Nefi-Lehi was.
22 En dit het gebeur dat die stem van die volk gekom, en gesê het: Kyk, ons sal die land Jerson opgee, wat aan die oostekant is by die see, wat aan die land Oorvloed grens, wat aan die suide is van die land Oorvloed; en hierdie land Jerson is die land wat ons aan ons broers vir ’n erfenis sal gee.
23 En kyk, ons sal ons leërs opstel tussen die land Jerson en die land Nefi, sodat ons ons broers in die land Jerson mag beskerm; en dit doen ons vir ons broers, vanweë hulle vrees om wapens op te neem teen hulle broers uit vrees dat hulle sonde sou pleeg; en hierdie, hulle groot vrees, het gekom vanweë hulle ernstige bekering wat hulle gehad het, vanweë hulle baie moorde en hulle vreeslike boosheid.
24 En nou, kyk, dit sal ons doen vir ons broers, sodat hulle die land Jerson mag beërwe; en ons sal hulle bewaak teen hulle vyande met ons leërs, op voorwaarde dat hulle ons ’n deel van hulle besittings sal gee om ons by te staan, sodat ons ons leërs in stand kan hou.
25 Nou, dit het gebeur dat toe Ammon dit gehoor het, het hy teruggekeer na die volk van Anti-Nefi-Lehi, en ook Alma saam met hom, die wildernis in, waar hulle hul tente opgeslaan het, en aan hulle al hierdie dinge bekend gemaak het. En Alma het ook aan hulle sy bekering vertel, saam met Ammon en Aäron, en sy broers.
26 En dit het gebeur dat dit groot vreugde onder hulle veroorsaak het. En hulle het afgegaan in die land Jerson, en het besit geneem van die land Jerson; en hulle is deur die Nefiete die volk van Ammon genoem; daarom is hulle onderskei met daardie naam vir altyd daarna.
27 En hulle was onder die volk van Nefi en is ook gereken onder die volk wat aan die kerk van God behoort het. En hulle is ook onderskei deur hulle ywer teenoor God, en ook teenoor mense; want hulle was volkome eerlik en opreg in alle dinge; en hulle was standvastig in die geloof in Christus, en wel tot die einde toe.
28 En hulle het die verspilling van die bloed van hulle broers met die grootste afkeer bejeën; en hulle kon nooit oorreed word om wapens op te neem teen hulle broers nie; en hulle het nooit die dood bejeën met enige mate van vrees nie, vanweë hulle hoop en begrip van Christus en die opstanding; daarom, die dood is vir hulle opgeneem deur die oorwinning van Christus daaroor.
29 Daarom, hulle sou die dood ly in die pynlikste en smartlikste wyse, wat deur hulle broers toegepas kon word, voordat hulle die swaard of die sabel sou opneem om hulle te dood.
30 En so was hulle ’n ywerige en geliefde volk, ’n hoogbegunstigde volk van die Here.