Hoofstuk 8
Alma preek en doop in Melek—Hy word verwerp in Ammoniha en vertrek—’n Engel beveel hom om terug te keer en bekering uit te roep tot die volk—Hy word ontvang deur Amulek, en die twee van hulle preek in Ammoniha. Ongeveer 82 v.C.
1 En nou dit het gebeur dat Alma teruggekeer het van die land Gídeon, nadat hy die volk van Gídeon baie dinge geleer het wat nie geskryf kan word nie, nadat hy die orde van die kerk gestig het, soos hy dit voorheen gedoen het in die land Zarahemla, ja, hy het teruggekeer na sy eie huis in Zarahemla om te rus van die arbeid wat hy verrig het.
2 En so het die negende jaar geëindig van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi.
3 En dit het gebeur aan die begin van die tiende jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi, dat Alma daarvandaan vertrek het, en gereis het na die land Melek, aan die weste van die Sidon-rivier, aan die weste teen die grense van die wildernis.
4 En hy het begin om die mense te leer in die land Melek volgens die heilige orde van God, waarvolgens hy geroep is; en hy het begin om die mense te leer dwarsdeur die hele land Melek.
5 En dit het gebeur dat die mense na hom gekom het uit al die grense van die land wat aan die wildernis se kant was. En hulle is gedoop dwarsdeur die hele land;
6 Sodat toe hy sy werk in Melek voltooi het, het hy vertrek daarvandaan, en drie dagreise ver getrek het na die noordekant van die land Melek; en hy het by ’n stad gekom wat Ammoniha genoem is.
7 Nou was dit die gewoonte van die volk van Nefi om hulle lande, en hulle stede, en hulle dorpe, en selfs hulle gehugte, na die naam te noem van hom wat hulle eerste besit het; en so was dit met die land Ammoniha.
8 En dit het gebeur dat toe Alma in die stad Ammoniha gekom het, het hy begin om die woord van God aan hulle te preek.
9 Nou het Satan ’n groot houvas gekry op die harte van die mense van die stad Ammoniha; daarom wou hulle nie ag slaan op die woorde van Alma nie;
10 Nogtans het Alma baie gearbei in die gees, terwyl hy met God geworstel het in kragtige gebed, sodat Hy sy Gees sou uitstort op die mense wat in die stad was; sodat Hy ook mag gun dat hy hulle mag doop tot bekering.
11 Nieteenstaande het hulle hul harte verhard, en aan hom gesê: Kyk, ons weet dat jy Alma is; en ons weet dat jy hoëpriester is oor die kerk wat jy gestig het in baie dele van die land, volgens julle oorlewering; en ons is nie van jou kerk nie, en ons glo nie aan sulke dwase oorleweringe nie.
12 En nou weet ons dat omdat ons nie van jou kerk is nie, weet ons dat jy geen mag het oor ons nie; en jy het die regterstoel gegee aan Nefiha; daarom is jy nie die hoofregter oor ons nie.
13 Nou toe die volk dit gesê het, en al sy woorde weerstaan het, en hom beledig het, en op hom gespoeg het, en hom laat uitwerp het uit hulle stad, het hy daarvandaan vertrek en gereis na die stad wat Aäron genoem is.
14 En dit het gebeur dat terwyl hy daarheen gereis het, en hy terneergedruk was met groot droefheid, en baie verdrukking en angs van siel deurworstel het, vanweë die boosheid van die mense wat in die stad Ammoniha was, dit het gebeur, terwyl Alma so terneergedruk was met droefheid, kyk ’n engel van die Here het verskyn aan hom, en gesê:
15 Geseënd is jy, Alma; daarom, rig jou hoof op en verbly jou, want jy het groot rede om jou te verbly; want jy was getrou in die onderhouding van die gebooie van God vanaf die tyd dat jy jou eerste boodskap van Hom ontvang het. Kyk, ek is hy wat dit aan jou gegee het.
16 En kyk, ek is gestuur om jou te beveel dat jy terugkeer na die stad Ammoniha, en weer preek vir die mense van die stad; ja, preek vir hulle. Ja, sê vir hulle, tensy hulle bekeer, sal die Here God hulle vernietig.
17 Want kyk, hulle bedink tans om die vryheid van jou volk te vernietig, (want so sê die Here) wat strydig is met die insettinge, en wette, en gebooie wat Hy aan sy mense gegee het.
18 Nou dit het gebeur dat nadat Alma sy boodskap van die engel van die Here ontvang het, het hy vinnig teruggekeer na die land Ammoniha. En hy het die stad langs ’n ander weg binnegegaan, ja, langs die weg wat aan die suide van die stad Ammoniha is.
19 En toe hy die stad binnegegaan het, was hy honger, en hy het aan ’n man gesê: Sal jy aan ’n nederige dienskneg van God iets gee om te eet?
20 En die man het aan hom gesê: Ek is ’n Nefiet, en ek weet dat u ’n heilige profeet van God is, want u is die man van wie ’n engel in ’n visioen gesê het: U sal ontvang. Daarom, gaan saam met my na my huis en ek sal van my kos met u deel; en ek weet dat u ’n seëning vir my en my huis sal wees.
21 En dit het gebeur dat die man hom in sy huis ontvang het; en die man was Amulek genoem; en hy het brood en vleis uitgehaal en voor Alma gesit.
22 En dit het gebeur dat Alma brood geëet het en versadig was; en hy het Amulek geseën en sy huis, en hy het dank aan God gegee.
23 En nadat hy geëet het en versadig was, het hy aan Amulek gesê: Ek is Alma, en is die hoëpriester oor die kerk van God dwarsdeur die land.
24 En kyk, ek is geroep om die woord van God te preek onder hierdie hele volk, volgens die gees van openbaring en profesie; en ek was in hierdie land en hulle wou my nie ontvang nie, maar hulle het my uitgewerp, en ek was op die punt om my rug te keer op hierdie land vir ewig.
25 Maar kyk, ek is beveel dat ek weer moes omdraai en vir hierdie volk profeteer, ja, en te getuig teen hulle aangaande hulle ongeregtighede.
26 En nou, Amulek, omdat jy my gevoed het en my ingeneem het, is jy geseënd; want ek was honger, want ek het baie dae gevas.
27 En Alma het baie dae by Amulek vertoef voordat hy vir die volk begin preek het.
28 En dit het gebeur dat die volk nog erger geword het in hulle ongeregtighede.
29 En die woord het tot Alma gekom, en gesê: Gaan; en sê ook aan my dienskneg Amulek, gaan uit en profeteer vir hierdie volk, en sê—Bekeer julle, want so sê die Here, tensy julle bekeer, sal Ek hierdie volk besoek in my toorn; ja, en Ek sal my vurige toorn nie afwend nie.
30 En Alma het uitgegaan, en ook Amulek, onder die volk, om die woorde van God te verkondig aan hulle; en hulle is vervul met die Heilige Gees.
31 En aan hulle is krag gegee, in so ’n mate dat hulle nie opgesluit kon word in kerkers nie; nóg was dit moontlik dat enige man hulle kon doodmaak; nogtans het hulle nie hul krag gebruik totdat hulle gebind is met bande en in die gevangenis gewerp is nie. Nou, dit is gedoen dat die Here sy krag deur hulle kon toon.
32 En dit het gebeur dat hulle uitgegaan en begin het om te preek en te profeteer vir die volk, volgens die gees en krag wat die Here hulle gegee het.