Hoofstuk 24
Die Lamaniete trek op teen die volk van God—Die Anti-Nefi-Lehi’s verbly hulle in Christus en word besoek deur engele—Hulle verkies om die dood te ly eerder as om hulleself te verdedig—Meer Lamaniete word bekeer. Ongeveer 90–77 v.C.
1 En dit het gebeur dat die Amalekiete en die Amuloniete en die Lamaniete wat in die land Amulon was, en ook in die land Helam, en wat in die land Jerusalem was, en kortom, in die hele land rondomheen, wat nie bekeer was nie en nie op hulle die naam van Anti-Nefi-Lehi geneem het nie, is deur die Amalekiete en deur die Amuloniete tot toorn ontstook teen hulle broers.
2 En hulle haat het uitermate hewig geword teenoor hulle, tot so ’n mate dat hulle begin het om te rebelleer teen hulle koning, tot so ’n mate dat hulle nie wou hê dat hy hulle koning moes wees nie; daarom, hulle het die wapens opgeneem teen die volk van Anti-Nefi-Lehi.
3 Nou het die koning die koninkryk oorgedra aan sy seun, en hy het sy naam Anti-Nefi-Lehi genoem.
4 En die koning het gesterwe in daardie selfde jaar wat die Lamaniete begin het om voorbereidsels te maak vir oorlog teen die volk van God.
5 Nou, toe Ammon en sy broers en al diegene wat saam met hom opgekom het die voorbereidsels van die Lamaniete sien om hulle broers te vernietig, het hulle uitgekom na die land Midian, en daar het Ammon al sy broers ontmoet; en daarvandaan het hulle gekom na die land Ismael; sodat hulle mag beraadslaag met Lamoni en ook met sy broer Anti-Nefi-Lehi, oor wat hulle moes doen om hulself te verdedig teen die Lamaniete.
6 Nou, daar was nie een siel onder al die mense wat tot die Here bekeer is wat wapens teen hul broers wou opneem nie; nee, hulle wou nie eers enige voorbereidsels maak vir oorlog nie; ja, en ook hulle koning het beveel dat hulle nie moes nie.
7 Nou, dit is die woorde wat hy gesê het aan die volk aangaande die saak: Ek dank my God, my geliefde volk, dat ons grote God in goedheid hierdie ons broers, die Nefiete, na ons gestuur het om vir ons te preek, en om ons te oortuig van die oorleweringe van ons goddelose vaders.
8 En kyk, ek dank my grote God dat Hy ons ’n deel van sy Gees gegee het om ons harte te versag, dat ons met hierdie broers, die Nefiete, vriendelike verhoudinge begin het.
9 En kyk, ek dank ook my God dat deur hierdie vriendelike verhouding te begin, is ons oortuig van ons sondes, en van die baie moorde wat ons gepleeg het.
10 En ek dank ook my God, ja, my grote God, dat Hy aan ons gegun het dat ons mag bekeer van hierdie dinge, en ook dat Hy ons vergewe het van ons baie sondes en moorde wat ons gepleeg het, en die skuld van ons harte weggeneem het, deur die verdienstes van sy Seun.
11 En nou kyk, my broers, aangesien dit al was wat ons kon doen (omdat ons die mees verlore van die hele mensdom was) om te bekeer van al ons sondes en die baie moorde wat ons gepleeg het, en om God te kry om hulle weg te neem van ons harte, want dit was al wat ons kon doen om voldoende te bekeer voor God dat Hy ons vlek kon wegneem—
12 Nou, my mees geliefde broers, aangesien God ons vlekke weggeneem het, en ons swaarde blink geword het, dan laat ons nie meer ons swaarde bevlek met die bloed van ons broers nie.
13 Kyk, ek sê vir julle, Nee, laat ons ons swaarde behou, sodat hulle nie bevlek word met die bloed van ons broers nie; want miskien, as ons ons swaarde weer bevlek kan hulle nie meer helder gewas word deur die bloed van die Seun van ons grote God, wat gestort sal word vir die versoening van ons sondes nie.
14 En die grote God het barmhartigheid gehad oor ons, en het hierdie dinge aan ons bekend gemaak sodat ons nie mag vergaan nie; ja, en Hy het hierdie dinge vooraf aan ons bekend gemaak, omdat Hy ons siele liefhet net soos Hy ons kinders liefhet; daarom, in sy barmhartigheid besoek Hy ons deur sy engele, sodat die heilsplan aan ons bekend gemaak mag word sowel as aan toekomstige geslagte.
15 O hoe barmhartig is ons God! En nou kyk, aangesien dit soveel was as wat ons kon doen om ons vlekke van ons weggeneem te kry, en ons swaarde blinkgemaak is, laat ons hulle wegsteek sodat hulle blink gehou mag word as ’n getuienis vir ons God op die laaste dag, of op die dag dat ons gebring sal word om voor Hom te staan om geoordeel te word, dat ons nie ons swaarde bevlek het met die bloed van ons broers vandat Hy sy woord aan ons meegedeel het en ons gereinig het daardeur nie.
16 En nou, my broers, alhoewel ons broers soek om ons te vernietig, kyk, ons sal ons swaarde wegsteek, ja, naamlik sal ons hulle begrawe diep in die aarde, sodat hulle blink gehou mag word, as ’n getuienis dat ons hulle nooit gebruik het nie, op die laaste dag; en as ons broers ons vernietig, kyk, dan sal ons na ons God gaan en sal gered word.
17 En nou het dit gebeur dat toe die koning ’n einde gemaak het aan hierdie woorde, en al die mense bymekaar gebring was, het hulle hul swaarde geneem, en al die wapens wat gebruik was om ’n mens se bloed te vergiet, en hulle het hulle diep in die aarde begrawe.
18 En dit het hulle gedoen, omdat dit volgens hulle siening ’n getuienis tot God was, en ook vir mense, dat hulle nooit weer wapens sou gebruik om mense se bloed te vergiet nie; en dit het hulle gedoen, terwyl hulle bevestig en ’n verbond gesluit het met God dat hulle, eerder as om die bloed van hulle broers te vergiet, hulle hul eie lewens sou opgee; en eerder as om weg te neem van ’n broer, sou hulle aan hom gee; en eerder as om hulle dae in ledigheid deur te bring, sou hulle oorvloedig arbei met hulle hande.
19 En so sien ons dat, toe hierdie Lamaniete daartoe gebring is om te glo en die waarheid te ken, was hulle standvastig, en sou ly tot die dood toe eerder as om sonde te pleeg; en dus sien ons dat hulle hul wapens van vrede begrawe het, of hulle het die wapens van oorlog begrawe vir vrede.
20 En dit het gebeur dat hulle broers, die Lamaniete, voorbereidsels getref het vir oorlog, en opgetrek het na die land Nefi met die doel om die koning te vernietig, en om ’n ander te plaas in sy plek, en ook om die mense van Anti-Nefi-Lehi te vernietig uit die land.
21 Nou toe die volk sien dat hulle teen hulle opkom, het hulle uitgegaan om hulle te ontmoet, en hulleself voor hulle op die aarde neergebuig, en begin om die naam van die Here aan te roep; en aldus was hulle in hierdie houding toe die Lamaniete begin het om hulle aan te val, en begin het om hulle dood te maak met die swaard.
22 En so sonder om enige teenstand te ondervind, het hulle ’n duisend en vyf van hulle doodgemaak; en ons weet dat hulle geseënd is, want hulle het gegaan om by hulle God te woon.
23 Nou, toe die Lamaniete sien dat hulle broers nie wou wegvlug van die swaard nie, nóg wou hulle wegdraai na die regter- of die linkerkant, maar dat hulle sou neerlê en vergaan, en God prys selfs terwyl hulle in die daadwerklike posisie was om onder die swaard te vergaan—
24 Nou toe die Lamaniete dit sien, het hulle opgehou om hulle dood te maak; en daar was baie wie se harte in hulle geswel het vir diegene van hulle broers wat geval het onder die swaard, want hulle het bekeer van die dinge wat hulle gedoen het.
25 En dit het gebeur dat hulle hul wapens van oorlog neergegooi het, en hulle wou hulle nie weer neem nie, want hulle het intense berou gehad oor die moorde wat hulle gepleeg het; en hulle het neergeval net soos hulle broers, en staatgemaak op die barmhartighede van diegene wie se arms opgelig was om hulle dood te maak.
26 En dit het gebeur dat by die volk van God daardie dag meer gevoeg is as die aantal wat doodgemaak is; en diegene wat doodgemaak is, was regverdige mense, daarom het ons geen rede om te twyfel dat hulle gered was nie.
27 En daar was nie ’n goddelose man gedood onder hulle nie; maar daar is meer as ’n duisend gebring tot die kennis van die waarheid; dus sien ons dat die Here op baie maniere werk vir die heil van sy volk.
28 Nou, die grootste aantal van diegene van die Lamaniete wat so baie van hulle broers gedood het, was Amalekiete en Amuloniete, van wie die grootste aantal van die orde van die Nehors was.
29 Nou, onder diegene wat by die volk van die Here gevoeg is, was daar niemand wat Amalekiete of Amuloniete was nie, of wat van die orde van Nehor was nie, maar hulle was werklike afstammelinge van Laman en Lemuel.
30 En dus kan ons duidelik onderskei, dat nadat ’n volk eenmaal verlig is deur die Gees van God en groot kennis gehad het van dinge betreffende regverdigheid, en dan weggeval het in sonde en oortreding, hulle nog meer verhard word, en dus word hulle toestand erger as wanneer hulle nooit van hierdie dinge geweet het nie.