Studiehulp
JSV, Lukas 3


JSV, Lukas 3:4–11. Vergelyk Lukas 3:4–6

Christus sal kom soos geprofeteer om heil aan Israel en die nie-Jode te bring. In die volheid van tye, sal Hy weer kom om die wêreld te oordeel.

4 Soos dit geskryf is in die boek van die profeet Jesaja; en hierdie is die woorde wat sê, Die stem van een wat roep in die wildernis: Berei julle die weg van die Here en maak sy paaie reguit.

5 Want kyk, en sien, Hy sal kom, soos dit geskrywe is in die boek van die profete, om die sondes van die wêreld weg te neem, en om heil na die heidense nasies te bring, om al diegene bymekaar te maak wat verlore is, wat van die skaapkudde van Israel is;

6 Ja, naamlik die verstrooides en verdruktes; en ook om die weg te berei en die prediking van die evangelie aan die nie-Jode moontlik te maak;

7 En om ’n lig te wees vir almal wat in duisternis sit, na die uiterste dele van die aarde; om die opstanding uit die dood teweeg te bring, en om omhoog te vaar, om aan die regterhand van die Vader te woon.

8 Tot die volheid van tye en die wet en die getuienis verseël sal word en die sleutels van die koninkryk weer aan die Vader oorgelewer sal word;

9 Om geregtigheid vir almal te bewerkstellig; om in oordeel op almal neer te kom en om al die goddeloses te oortuig van hulle goddelose dade wat hulle gepleeg het; en dit alles op die dag wanneer Hy sal kom;

10 Want dit is ’n dag van mag; ja, elke vallei sal opgevul word en elke berg en heuwel sal verlaag word; die kromme sal reguit gemaak word en die growwe weë sal gelyk gemaak word;

11 En alle vlees sal die heil van God sien.

JSV, Lukas 3:19–20. Vergelyk Lukas 3:10–13

Die armes word versorg vanuit die skatkis se oorvloed. Tollenaars (belastinginvorderaars) moenie meer invorder as wat voorgeskrewe is deur die wet nie.

19 Want dit is welbekend aan jou Theófilus, dat volgens die wyse van die Jode, en ooreenkomstig die gebruik van hulle wet om geld in die skatkis te ontvang, dat uit die oorvloed wat ontvang is aan die armes toegewys is, elkeen sy gedeelte.

20 En ooreenkomstig hierdie wyse het die tollenaars ook gedoen, daarom het Johannes vir hulle gesê, Vereis niks meer as dít wat aan julle voorgeskryf is nie.

Druk