Hoofstuk 2
Abraham verlaat Ur om na Kanaän te gaan—Jehova verskyn aan hom in Haran—Alle evangeliese seëninge word aan sy saad en deur sy saad aan almal belowe—Hy gaan na Kanaän en verder na Egipte.
1 Nou, die Here God het die hongersnood in die land Ur laat erger word, in soverre dat Haran, my broer, gesterwe het; maar Tera, my vader, het steeds in die land Ur gebly, van die Chaldeërs.
2 En dit het gebeur dat ek, Abraham, Sarai as vrou geneem het, en Nahor, my broer, het Milka as vrou geneem, wat die dogter van Haran was.
3 Nou het die Here vir my gesê: Abraham, trek weg uit jou land en van jou verwante, en van jou vader se huis, na ’n land wat Ek jou sal wys.
4 Daarom het ek die land Ur verlaat, van die Chaldeërs, om na die land Kanaän te gaan; en ek het Lot, my broer se seun, en sy vrou, en Sarai my vrou geneem; en ook het my vader my gevolg, na die land wat ons Haran genoem het.
5 En die hongersnood het afgeneem; en my vader het vertoef in Haran en het daar gewoon, aangesien daar baie kuddes in Haran was; en my vader het weer teruggedraai na sy afgodery, daarom het hy in Haran gebly.
6 Maar ek, Abraham, en Lot, my broer se seun, het tot die Here gebid, en die Here het aan my verskyn en vir my gesê: Begin, en neem Lot saam met jou; want Ek het besluit om jou weg te neem uit Haran, en om van jou ’n dienaar te maak om my Naam te dra in ’n vreemde land wat Ek aan jou saad na jou sal gee vir ’n ewigdurende besitting, wanneer hulle ag slaan op my stem.
7 Want Ek is die Here jou God; Ek woon in die hemel; die aarde is my voetbank; Ek strek my hand oor die see, en dit gehoorsaam my stem; Ek maak die wind en die vuur om my wa te wees; Ek sê vir die berge—Vertrek daarheen—en kyk, hulle word weggeneem deur ’n warrelwind, in ’n oomblik, skielik.
8 My Naam is Jehova, en Ek ken die einde van die begin; daarom sal my hand oor jou wees.
9 En Ek sal van jou ’n groot nasie maak, en sal jou bomate seën, en jou naam groot maak onder alle nasies, en jy sal ’n seëning wees vir al jou saad na jou, dat in hulle hande hulle hierdie bediening en Priesterskap aan alle nasies sal bring;
10 En Ek sal hulle seën deur jou naam; want soveel as wat hierdie evangelie ontvang sal na jou naam genoem word, en sal as jou saad gereken word, en sal opstaan en jou seën, as hulle vader.
11 En Ek sal hulle seën wat jou seën, en hulle vervloek wat jou vervloek; en in jou (dit is, in jou Priesterskap) en in jou saad (dit is, jou Priesterskap), want Ek gee aan jou ’n belofte dat hierdie reg sal voortduur in jou, en in jou saad na jou (dit wil sê, die letterlike saad of die saad van die liggaam) sal al die families van die aarde geseën word, naamlik met die seëninge van die Evangelie, wat die seëninge van heil is, naamlik van die ewige lewe.
12 Nou, nadat die Here onttrek het om met my te spreek, en sy aangesig van my onttrek het, het ek in my hart gesê: U dienskneg het U ernstig gesoek; nou het Ek U gevind;
13 U het u engel gestuur om my te verlos van die gode van Élkena, en ek sal goed doen om ag te slaan op u stem, daarom, laat u dienskneg opstaan en in vrede vertrek.
14 Derhalwe het ek, Abraham, vertrek soos die Here vir my gesê het, en Lot saam met my; en ek, Abraham, was twee en sestig jaar oud toe ek uit Haran vertrek het.
15 En ek het Sarai, wat ek as vrou geneem het toe ek in Ur was, in Chaldéa, en Lot, my broer se seun, en al ons besittings wat ons bymekaargemaak het, en die siele wat ons in Haran gewen het, en uitgegaan op die pad na die land Kanaän, en in tente gewoon terwyl ons onderweg was;
16 Daarom, die ewigheid was ons bedekking en ons rots en ons heil, soos ons gereis het van Haran by Jerson langs, om by die land Kanaän te kom.
17 Nou Ek, Abraham, het ’n altaar gebou in die land Jerson, en ’n offerande aan die Here gemaak, en gebid dat die hongersnood weggekeer mag word van my vader se huis, sodat hulle nie mag sterwe nie.
18 En toe het ons van Jerson gereis deur die land na die plek Sigem; dit was geleë op die vlaktes van More, en ons het reeds die grense van die land van die Kanaäniete oorgesteek, en ek het ’n offerande daar in die vlaktes van More geoffer, en het die Here plegtig aangeroep, omdat ons alreeds die land van hierdie afgodsnasie binnegekom het.
19 En die Here het aan my verskyn in antwoord op my gebede, en het vir my gesê: Aan jou saad sal Ek hierdie land gee.
20 En Ek, Abraham, het opgestaan van die plek van die altaar wat ek vir die Here gebou het, en vandaar vertrek na ’n berg aan die oostekant van Bet-el, en het my tent daar opgeslaan, Bet-el aan die weste en Ai aan die ooste; en daar het ek ’n ander altaar vir die Here gebou, en weer die Naam van die Here aangeroep.
21 En ek, Abraham, het gereis, en steeds aangegaan na die suide; en daar was ’n voortsetting van die hongersnood in die land; en ek, Abraham, het besluit om af te gaan na Egipte, om daar te vertoef, want die hongersnood het baie ernstig geword.
22 En dit het gebeur dat toe ek op die punt was om Egipte binne te gaan, het die Here vir my gesê: Kyk, Sarai, jou vrou, is ’n baie mooi vrou van aansien;
23 Daarom sal dit gebeur dat wanneer die Egiptenare haar sal sien, sal hulle sê—Sy is sy vrou; en hulle sal jou doodmaak, maar hulle sal haar lewe red; daarom, sien toe dat julle as volg optree:
24 Laat haar vir die Egiptenare sê sy is jou suster, en jou siel sal lewe.
25 En dit het gebeur dat ek, Abraham, vir Sarai, my vrou, vertel het, alles wat die Here vir my gesê het—Daarom, sê vir hulle, vra ek jou, dat jy my suster is, sodat dit goed mag gaan met my vanweë jou, en my siel sal lewe as gevolg van jou.