Hoofstuk 16
Die bose vind die waarheid moeilik aanvaarbaar—Lehi se seuns trou met die dogters van Ismael—Die Liahona wys hulle die weg aan in die wildernis—Boodskappe van die Here word van tyd tot tyd op die Liahona geskryf—Ismael sterf; sy gesin murmureer as gevolg van verdrukkinge. Ongeveer 600–592 v.C.
1 En nou het dit gebeur dat nadat ek, Nefi, ’n einde daaraan gemaak het om met my broers te spreek, sien, het hulle vir my gesê: Jy het harde dinge aan ons verkondig, meer as wat ons in staat is om te verduur.
2 En dit het gebeur dat ek vir hulle gesê het dat ek weet dat ek harde dinge gespreek het teen die bose, volgens die waarheid; en dat ek die regverdiges geregverdig het, en getuig het dat hulle verhef sou word op die laaste dag; daarom ag die skuldiges die waarheid as hard, want dit sny hulle tot in die murg.
3 En nou, my broers, as julle regverdig was en gewillig was om ag te slaan op die waarheid, en gehoor te gee daaraan, dat julle mag wandel in opregtheid voor God, dan sou julle nie murmureer vanweë die waarheid nie, en sê: Jy spreek harde dinge teenoor ons.
4 En dit het gebeur dat ek, Nefi, my broers vermaan het met alle ywer, om die gebooie van die Here te onderhou.
5 En dit het gebeur dat hulle hul verootmoedig het voor die Here tot so ’n mate dat ek blydskap en groot hoop gehad het vir hulle, dat hulle sou wandel in die weë van regverdigheid.
6 Nou, al hierdie dinge is gesê en gedoen terwyl my vader in ’n tent gewoon het in die vallei wat hy Lemuel genoem het.
7 En dit het gebeur dat ek, Nefi, een van die dogters van Ismael tot vrou geneem het; en ook my broers het van die dogters van Ismael tot vrou geneem; en ook Soram het die oudste dogter van Ismael tot vrou geneem.
8 En so het my vader al die gebooie uitgevoer van die Here wat aan hom gegee was, en ook ek, Nefi, was uitermate geseën deur die Here.
9 En dit het gebeur dat die stem van die Here in die nag met my vader gespreek het en hom gebied het om die volgende dag sy reis in die wildernis voort te sit.
10 En dit het gebeur dat toe my vader die oggend opstaan, en uitgaan na die tentdeur, sien hy tot sy groot verbasing op die grond ’n ronde bal van sonderlinge vakmanskap; en dit was van suiwer brons. En binne-in die bal was daar twee asse; en die een het in die rigting gewys waarheen ons moes gaan in die wildernis.
11 En dit het gebeur dat ons alles bymekaar gemaak het wat ons moes saamneem in die wildernis, en al die res van ons lewensmiddele wat die Here aan ons gegee het; en ons het saad geneem van alle soorte, sodat ons dit kon saamneem in die wildernis.
12 En dit het gebeur dat ons ons tente geneem en die wildernis binnegetrek het, oor die Laman-rivier.
13 En dit het gebeur dat ons vir ’n tydperk van vier dae lank gereis het, ongeveer in ’n suid-suidoostelike rigting, en ons het ons tente weer opgeslaan; en ons het die plek Sjaser genoem.
14 En dit het gebeur dat ons ons pyle en boë geneem, en die wildernis binnegegaan het om voedsel vir ons gesinne dood te maak; en nadat ons voedsel vir ons gesinne doodgemaak het, het ons weer teruggekeer na ons gesinne in die wildernis, na die plek Sjaser. En ons het weer die wildernis binnegetrek terwyl ons dieselfde rigting volg, en gebly het in die vrugbaarste dele van die wildernis, wat geleë was aan die grense naby die Rooi See.
15 En dit het gebeur dat ons vir ’n tydperk van baie dae lank gereis het, terwyl ons voedsel langs die pad doodgemaak het, met ons pyle en boë en ons klippe en ons slingers.
16 En ons het die aanwysings van die bal gevolg, wat ons gelei het in die vrugbaarder dele van die wildernis.
17 En nadat ons vir ’n tydperk van baie dae gereis het, het ons ons tente opgeslaan vir ’n tydlank sodat ons weer kon rus en voedsel kon bekom vir ons gesinne.
18 En dit het gebeur dat terwyl ek, Nefi, uitgegaan het om voedsel te bekom, kyk, ek het my boog gebreek, wat gemaak was van suiwer staal; en nadat ek my boog gebreek het, kyk, my broers was kwaad vir my oor die verlies van my boog, want ons het geen kos bekom nie.
19 En dit het gebeur dat ons sonder kos teruggekeer het na ons gesinne, en omdat hulle baie moeg was, as gevolg van die reis, het hulle baie gely weens die gebrek aan kos.
20 En dit het gebeur dat Laman en Lemuel en die seuns van Ismael uitermate begin murmureer het, vanweë hulle lydings en verdrukkinge in die wildernis, en ook my vader het begin murmureer teen die Here sy God; ja, en hulle was almal uitermate bedroef sodat hulle gemurmureer het teen die Here.
21 Nou het dit gebeur dat ek, Nefi, omdat ek gely het saam met my broers vanweë die verlies van my boog, en omdat hulle boë hul veerkrag verloor het, het dit uitermate moeilik begin word; ja, in soverre dat ons geen kos kon bekom nie.
22 En dit het gebeur dat ek, Nefi, baie met my broers gespreek het omdat hulle weer hul harte verhard het, tot so ’n mate dat hulle gekla het teen die Here hulle God.
23 En dit het gebeur dat ek, Nefi, ’n boog van hout gemaak het, en uit ’n reguit stok ’n pyl; daarom, ek het myself bewapen met ’n boog en pyl, ’n slinger en met klippe. En ek het vir my vader gesê: Waarheen sal ek gaan om voedsel te bekom?
24 En dit het gebeur dat hy vir die Here gevra het, want hulle het hulle verootmoedig vanweë my woorde; want ek het baie dinge aan hulle gesê in die energie van my siel.
25 En dit het gebeur dat die stem van die Here tot my vader gekom het; en hy was waarlik gekasty as gevolg van sy murmerering teen die Here, tot so ’n mate dat hy afgebring is tot die dieptes van droefheid.
26 En dit het gebeur dat die stem van die Here vir hom gesê het: Kyk na die bal, en sien die dinge wat geskrywe is.
27 En dit het gebeur dat toe my vader die dinge sien wat daar op die bal geskrywe staan, het hy gevrees en uitermate gebewe, en ook my broers en die seuns van Ismael en ons vroue.
28 En dit het gebeur dat ek, Nefi, die wysers gesien het wat in die bal was, dat hulle gewerk het ooreenkomstig die geloof en ywer en die gehoor wat ons aan hulle gegee het.
29 En daar was ook op hulle ’n nuwe skrywe, wat duidelik gelees kon word, wat ons insig gegee het in die weë van die Here; en dit is geskryf en verander van tyd tot tyd, volgens die geloof en ywer wat ons daaraan gegee het. En so sien ons dat die Here deur geringe middele groot dinge teweeg kan bring.
30 En dit het gebeur dat ek, Nefi, na die berg se top gegaan het volgens die aanwysings wat op die bal aangegee is.
31 En dit het gebeur dat ek wilde diere doodgemaak het, sodat ek voedsel vir ons gesinne bekom het.
32 En dit het gebeur dat ek na ons tente teruggekeer het, terwyl ek die diere dra wat ek doodgemaak het; en nou toe hulle sien dat ek voedsel bekom het, hoe groot was hulle blydskap! En dit het gebeur dat hulle hul verootmoedig het voor die Here, en dank betuig het aan Hom.
33 En dit het gebeur dat ons weer ons reis voortgesit het, terwyl ons in ongeveer dieselfde rigting reis as in die begin; en nadat ons vir ’n tydperk van baie dae lank gereis het, het ons weer ons tente opgeslaan, sodat ons vir ’n tydlank kon vertoef.
34 En dit het gebeur dat Ismael gesterwe het, en begrawe is op die plek wat Nahom genoem is.
35 En dit het gebeur dat die dogters van Ismael uitermate getreur het vanweë die verlies van hulle vader, en vanweë hulle verdrukkinge in die wildernis; en hulle het gemurmureer teen my vader omdat hy hulle uit die land Jerusalem gebring het, en gesê het: Ons vader is dood; ja, en ons het baie geswerwe in die wildernis, en ons het baie verdrukkinge gely, honger, dors en uitputting; en na al hierdie lyding moet ons in die wildernis van honger omkom.
36 En aldus het hulle gemurmureer teen my vader en ook teen my; en hulle was begerig om weer na Jerusalem terug te keer.
37 En Laman het vir Lemuel gesê, en ook vir die seuns van Ismael: Kyk, laat ons ons vader doodmaak, en ook ons broer Nefi, wat dit op hom geneem het om ons, wat sy ouer broers is, se heerser en leraar te wees.
38 Nou, hy sê dat die Here met hom gepraat het, en ook dat engele hom bedien het. Maar kyk, ons weet dat hy vir ons lieg; en hy vertel vir ons hierdie dinge, en hy doen baie dinge deur sy lis, sodat hy ons oë mag bedrieg, dinkende miskien, dat hy vir ons kan weglei na een of ander vreemde wildernis; en nadat hy ons weggelei het, het hy gedink om homself ’n koning en ’n heerser oor ons te maak, sodat hy met ons kan maak volgens sy wil en behae. En op hierdie wyse het my broer Laman hul harte tot toorn opgestook.
39 En dit het gebeur dat die Here met ons was, ja, en die stem van die Here het gekom en baie woorde met hulle gespreek, en hulle uitermate gekasty; en nadat hulle deur die stem van die Here gekasty is, het hulle hul toorn afgewend, en het bekeer van hulle sondes sodat die Here ons weer met voedsel geseën het sodat ons nie vergaan het nie.