Hoofstuk 3
Abraham leer van die son, maan en sterre deur middel van die Urim en Tummim—Die Here openbaar aan hom die ewige aard van geeste—Hy leer van die vooraardse bestaan, voorafverordinering, die Skepping, die kies van ’n Verlosser, en die tweede staat van die mens.
1 En ek, Abraham het die Urim en Tummim gehad, wat die Here my God aan my gegee het, in Ur van die Chaldeërs.
2 Ek het die sterre gesien, dat hulle baie groot was, en dat een van hulle naaste was aan die troon van God; en daar was baie grotes wat daar naby was;
3 En die Here het vir my gesê: Hierdie is die beherendes; en die naam van die groot een is Kolob, omdat dit naby aan My is, want Ek is die Here jou God: Ek het hierdie een gestel om al daardie te beheer wat tot dieselfde orde behoort as dit waarop jy staan.
4 En die Here het vir my gesê, deur die Urim en Tummim, dat Kolob volgens die wyse van die Here was, wat sy tye en seisoene betref met betrekking tot die omwentelings daarvan; dat een omwenteling ’n dag vir die Here is, volgens sy wyse van berekening, en dit is eenduisend jaar volgens die tyd toegewys aan dit waarop jy staan. Dit is die berekening van die Here se tyd, volgens die berekening van Kolob.
5 En die Here het vir my gesê: Die planeet wat die mindere lig is, minder as dit wat oor die dag heers, naamlik die nag, is bo of groter as dit waarop jy staan met betrekking tot tydsberekening, want dit beweeg stadiger in sy orde; dit is in orde omdat dit bo die aarde staan waarop jy staan, daarom is die berekening van sy tyd nie so veel met betrekking tot sy aantal dae, en van maande, en van jare nie.
6 En die Here het vir my gesê: Nou, Abraham, hierdie twee feite bestaan, kyk, jou oë sien dit; dit word aan jou gegee om die tye van berekening te ken, en die gesette tyd, ja, die gesette tyd van die aarde waarop jy staan, en die gesette tyd van die groter lig wat gestel is om oor die dag te heers, en die gesette tyd van die mindere lig wat gestel is om oor die nag te heers.
7 Nou, die gesette tyd van die mindere lig is ’n langer tyd met betrekking tot sy berekening as die berekening van die tyd van die aarde waarop jy staan.
8 En waar hierdie twee feite bestaan, sal daar ’n ander feit bo hulle wees, dit is, daar sal ’n ander planeet wees waarvan die berekening van tyd nog langer sal wees;
9 En dus sal daar ’n berekening van die tyd van een planeet bo ’n ander wees, tot jy naby Kolob kom, welke Kolob volgens die berekening van die Here se tyd is; welke Kolob gestel is naby die troon van God, om al daardie planete te beheer wat aan dieselfde orde behoort as dít waarop jy staan.
10 En dit word aan jou gegee om die gesette tyd van al die sterre wat gestel is om lig te gee, te ken, totdat jy naby aan die troon van God kom.
11 Dus het ek, Abraham, met die Here gespreek van aangesig tot aangesig, soos een mens met ’n ander spreek; en Hy het my vertel van die werke wat sy hande gemaak het;
12 En Hy het vir my gesê: My seun, my seun (en sy hand was uitgestrek), kyk, Ek sal aan jou ál hierdie toon. En Hy het sy hand op my oë geplaas, en ek het daardie dinge gesien wat sy hande gemaak het, wat baie was; en hulle het voor my oë vermenigvuldig, en ek kon nie die einde daarvan sien nie.
13 En Hy het vir my gesê: Dit is Shineha, wat die son is. En Hy het vir my gesê: Kokob, wat ’n ster is. En Hy het vir my gesê: Olea, wat die maan is. En Hy het vir my gesê: Kokaubim, wat sterre aandui, of al die groot ligte, wat in die uitspansel van die hemel was.
14 En dit was in die nag toe die Here hierdie woorde tot my gespreek het: Ek sal jou vermeerder, en al jou saad na jou, net soos hierdie; en as jy die aantal sandkorrels kan tel, so sal die getal van jou saad wees.
15 En die Here het vir my gesê: Abraham, Ek toon hierdie dinge aan julle voordat julle Egipte binnegaan, sodat julle al hierdie woorde kan verkondig.
16 Indien twee dinge bestaan, en daar is een bo die ander, sal daar groter dinge bo hulle wees; daarom is Kolob die grootste van al die Kokaubim wat jy gesien het, omdat dit naaste aan My is.
17 Nou, indien daar twee dinge is, die een bo die ander, en die maan is bo die aarde, dan mag dit wees dat ’n planeet of ’n ster bo dit mag bestaan; en daar is niks wat die Here jou God in sy hart sal voorneem om te doen nie, maar Hy sal dit doen.
18 Nietemin het Hy die groter ster gemaak; net so, ook, indien daar twee geeste is en die een mag intelligenter wees as die ander, tog het hierdie twee geeste, nieteenstaande die een intelligenter is as die ander, geen begin nie; hulle het voorheen bestaan, hulle sal geen einde hê nie, hulle sal hierna bestaan, want hulle is gnolaum of ewig.
19 En die Here het vir my gesê: Hierdie twee feite bestaan wel, dat daar twee geeste is, die een is intelligenter as die ander; daar sal ’n ander wees, intelligenter as hulle; Ek is die Here jou God, Ek is intelligenter as hulle almal.
20 Die Here jou God het sy engel gestuur om jou te verlos van die hande van die priester van Élkena.
21 Ek woon in die midde van hulle almal; Ek, het nou, daarom, neergedaal na jou om aan jou die werke wat my hande gemaak het, te verklaar, waarin my wysheid hulle almal oortref, want Ek heers in die hemele daarbo, en in die aarde daaronder, in alle wysheid en verstandigheid, oor al die intelligensies wat jou oë gesien het vanaf die begin; Ek het in die begin neergedaal in die midde van al die intelligensies wat jy gesien het.
22 Nou het die Here aan my, Abraham, die intelligensies getoon wat georganiseer was voor die wêreld was; en onder al hierdie was daar baie van die eerbares en grotes.
23 En God het hierdie siele gesien, dat hulle goed was, en Hy het in die midde van hulle gestaan, en Hy het gesê: Hulle sal Ek my heersers maak; want Hy het onder diegene wat geeste was, gestaan, en Hy het gesien dat hulle goed was; en Hy het vir my gesê: Abraham, jy is een van hulle; jy is gekies voor jy gebore is.
24 En daar het een onder hulle gestaan wat soos God was, en Hy het vir diegene gesê wat by Hom was: Ons sal neerdaal, want daar is ruimte daar, en ons sal van hierdie materiaal neem en ons sal ’n aarde maak waarop hulle mag woon;
25 En ons sal hulle hierdeur beproef, om te sien of hulle alle dinge sal doen wat die Here hulle God hulle sal gebied;
26 En aan hulle wat hul eerste staat onderhou, sal toegevoeg word; en hulle wat nie hulle eerste staat onderhou nie, sal nie heerlikheid hê in dieselfde koninkryk met diegene wat hulle eerste staat onderhou; en hulle wat hul tweede staat onderhou, sal heerlikheid op hulle hoofde toegevoeg ontvang vir ewig en ewig.
27 En die Here het gesê: Wie sal Ek stuur? En Een soos die Seun van die Mens het geantwoord: Hier is Ek, stuur My. En ’n ander het geantwoord en gesê: Hier is Ek, stuur my. En die Here het gesê: Ek sal die eerste stuur.
28 En die tweede was toornig, en het nie sy eerste staat onderhou nie; en, op daardie dag, het baie hom gevolg.