Skrifture
1 Nefi 2


Hoofstuk 2

Lehi neem sy gesin die wildernis binne by die Rooi See—Hulle laat hul besittings agter—Lehi offer ’n offerande aan die Here en leer sy seuns om die gebooie te onderhou—Laman en Lemuel murmureer teen hul vader—Nefi is gehoorsaam en bid in geloof; die Here spreek met hom, en hy word gekies om te heers oor sy broers. Ongeveer 600 v.C.

1 Want kyk, dit het gebeur dat die Here met my vader gespreek het, ja, en wel in ’n droom, en vir hom gesê het: Geseënd is jy, Lehi, vanweë die dinge wat jy gedoen het; en omdat jy getrou was en aan hierdie volk die dinge verkondig het wat Ek jou gebied het, kyk, hulle soek om jou lewe te neem.

2 En dit het gebeur dat die Here my vader gebied het, en wel in ’n droom, dat hy sy gesin moes neem en die wildernis intrek.

3 En dit het gebeur dat hy gehoorsaam was aan die woord van die Here, daarom het hy gedoen soos die Here hom gebied het.

4 En dit het gebeur dat hy die wildernis ingetrek het. En hy het sy huis verlaat, en die land van sy erfenis, en sy goud, en sy silwer, en sy kosbare dinge, en het niks met hom saamgeneem nie, behalwe sy gesin, en voorrade, en tente, en het die wildernis ingetrek.

5 En hy het onder by die grense naby die kus van die Rooi See aangekom; en hy het die wildernis ingetrek by die grense wat nader is aan die Rooi See; en hy het in die wildernis gereis met sy gesin, wat bestaan het uit my moeder, Saria, en my ouer broers, wat Laman, Lemuel en Sam was.

6 En dit het gebeur dat toe hy drie dae in die wildernis gereis het, hy sy tent opgeslaan het in ’n vallei aan die oewer van ’n rivier van water.

7 En dit het gebeur dat hy ’n altaar van klippe gebou het, en ’n offerande gebring het aan die Here, en dank betuig het teenoor die Here onse God.

8 En dit het gebeur dat hy die naam van die rivier Laman genoem het, en dit het uitgeloop in die Rooi See; en die vallei was binne die grense naby die monding daarvan.

9 En toe my vader sien dat die waters van die rivier uitloop in die fontein van die Rooi See, het hy met Laman gespreek, en gesê: O dat jy soos hierdie rivier mag wees, wat voortdurend invloei in die fontein van alle regverdigheid!

10 En hy het ook met Lemuel gespreek: O dat jy mag wees soos hierdie vallei, ferm en standvastig, en onbeweeglik in die onderhouding van die gebooie van die Here!

11 Nou dit het hy gespreek vanweë die hardnekkigheid van Laman en Lemuel; want kyk, hulle het gemurmureer in baie dinge teen hulle vader, omdat hy ’n man was wat visioene gesien het, en hulle uitgelei het uit die land Jerusalem, om die land van hulle erfenis te verlaat, en hulle goud, en hulle silwer, en hulle kosbare dinge, om om te kom in die wildernis. En dit het hulle gesê het hy gedoen vanweë die dwase inbeeldinge van sy hart.

12 En so het Laman en Lemuel, as die oudstes, teen hulle vader gemurmureer. En hulle het gemurmureer omdat hulle nie die handelswyse van daardie God geken het wat hulle geskape het nie.

13 Nóg het hulle geglo dat Jerusalem, daardie grote stad, verwoes kon word volgens die woorde van die profete. En hulle was soos die Jode, wat by Jerusalem was, wat gesoek het om my vader se lewe te neem.

14 En dit het gebeur dat my vader met krag met hulle gespreek het in die vallei van Lemuel, omdat hy vervul was met die Gees, totdat hulle liggame gebewe het voor hom. En hy het hulle beskaam, sodat hulle nie teen hom durf uiter nie; daarom het hulle gedoen soos hy hulle beveel het.

15 En my vader het in ’n tent gewoon.

16 En dit het gebeur dat ek, Nefi, aangesien ek baie jonk was, en desnieteenstaande groot van gestalte was, en ook omdat ek brandende begeertes gehad het om die verborgenhede van God te ken, daarom het ek tot die Here geroep; en kyk, Hy het my besoek, en het my hart versag, sodat ek al die woorde geglo het wat gespreek was deur my vader; daarom het ek nie teen hom gerebelleer soos my broers nie.

17 En ek het met Sam gespreek, en aan hom die dinge bekend gemaak wat die Here aan my geopenbaar het deur sy Heilige Gees. En dit het gebeur dat hy in my woorde geglo het.

18 Maar kyk, Laman en Lemuel wou nie ag slaan op my woorde nie; en omdat ek bedroef was weens die hardheid van hulle harte, het ek tot die Here om hulle ontwil geroep.

19 En dit het gebeur dat die Here met my gespreek, en gesê het: Geseënd is jy, Nefi, vanweë jou geloof, want jy het My getrou gesoek, met nederigheid van hart.

20 En in soverre jy my gebooie sal onderhou, sal jy voorspoedig wees, en sal gelei word na ’n land van belofte; ja, en wel ’n land wat Ek berei het vir jou; ja, ’n land wat uitverkore is bo alle ander lande.

21 En in soverre jou broers teen jou sal rebelleer, sal hulle afgesny word van die teenwoordigheid van die Here.

22 En in soverre jy my gebooie onderhou, sal jy ’n heerser en ’n leraar oor jou broers gemaak word.

23 Want kyk, in daardie dag wanneer hulle teen My sal rebelleer, sal Ek hulle vervloek, en wel met ’n swaar vervloeking, en hulle sal geen mag hê oor jou saad nie, behalwe as hulle ook teen My sal rebelleer.

24 En as dit so is dat hulle teen My rebelleer, sal hulle ’n gésel wees vir jou saad, om hulle aan te spoor tot die weë van herinnering.