Skrifture
Moroni 9


Die tweede brief van Mormon aan sy seun Moroni.

Dit behels hoofstuk 9.

Hoofstuk 9

Beide die Nefiete en Lamaniete is verdorwe en ontaard—Hulle martel en vermoor mekaar—Mormon bid dat genade en goedheid mag rus op Moroni vir ewig. Ongeveer 401 n.C.

1 My geliefde seun, ek skryf weer aan jou sodat jy mag weet dat ek nog lewe; maar ek skryf ietwat aangaande dit wat verontrustend is.

2 Want kyk, ek het ’n fel stryd gehad met die Lamaniete, waarin ons nie oorwin het nie; en Archeantus het geval deur die swaard, en ook Luram en Emron; ja, en ons het ’n groot getal van ons uitverkore manne verloor.

3 En nou kyk, my seun, ek vrees dat die Lamaniete hierdie volk sal vernietig, want hulle bekeer nie, en Satan stook hulle gedurig op tot toorn teen mekaar.

4 Kyk, ek arbei gedurig met hulle; en wanneer ek die woord van God spreek met skerpheid, bewe hulle en raak toornig teen my; en wanneer ek geen skerpheid gebruik nie, verhard hulle hul harte daarteen; daarom, ek vrees dat die Gees van die Here opgehou het om met hulle te werk.

5 Want so uitermate word hulle toornig dat dit vir my voorkom dat hulle geen vrees het vir die dood nie; en hulle het hul liefde verloor, die een teenoor die ander; en hulle dors voortdurend na bloed en wraak.

6 En nou, my geliefde seun, nieteenstaande hul hardheid, laat ons ywerig arbei; want as ons sou ophou om te arbei, sou ons gebring word onder veroordeling; want ons het ’n arbeid om te verrig terwyl in hierdie tabernakel van klei, sodat ons die vyand van alle regverdigheid mag oorwin, en ons siele rus in die koninkryk van God.

7 En nou skryf ek ietwat aangaande die lyding van hierdie volk. Want volgens die kennis wat ek ontvang het van Amoron, kyk, die Lamaniete het baie gevangenes, wat hulle geneem het van die toring van Serriza; en daar was manne, vroue, en kinders.

8 En die mans en vaders van daardie vroue en kinders het hulle gedood; en hulle voed die vroue met die vlees van hul mans, en die kinders op die vlees van hul vaders; en geen water nie, behalwe ’n bietjie, gee hulle vir hulle.

9 En nieteenstaande hierdie groot gruwel van die Lamaniete, oortref dit nie dít van ons volk in Moriantum nie. Want kyk, baie van die dogters van die Lamaniete het hulle gevange geneem; en nadat hulle hul ontneem het van dít wat dierbaarste en kosbaarste was bo alle dinge, wat kuisheid en reinheid is—

10 En nadat hulle hierdie ding gedoen het, het hulle hul vermoor op die wreedaardigste wyse, deur hul liggame te martel tot die dood; en nadat hulle dit gedoen het, het hulle hul vlees verorber soos wilde diere, vanweë die hardheid van hul harte; en hulle doen dit as ’n teken van dapperheid.

11 O my geliefde seun, hoe kan ’n volk soos hierdie, wat sonder beskawing is—

12 (En net ’n paar jaar het verbygegaan, sedert hulle ’n beskaafde en aangename volk was)—

13 Maar o my seun, hoe kan ’n volk soos hierdie, wie se genot in soveel gruwels is—

14 Hoe kan ons verwag dat God sy hand sal terughou in oordeel teen ons?

15 Kyk, my hart roep uit: Wee hierdie volk. Kom uit in oordeel, o God, en verberg hulle sondes, en boosheid en gruwels van voor u aangesig!

16 En verder, my seun, daar is baie weduwees en hul dogters wat agterbly in Serriza; en daardie deel van die voorrade wat die Lamaniete nie weggedra het nie, kyk, dit het die leër van Zenefi weggedra, en hulle agtergelaat om rond te dwaal waar hulle ook al kan vir voedsel; en baie ou vroue val flou langs die pad en sterwe.

17 En die leër wat by my is, is swak; en die leërs van die Lamaniete is tussen Serriza en my; en soveel as wat gevlug het na die leër van Aäron, het die prooi geword van hulle vreeslike wreedaardigheid.

18 O, die verdorwenheid van my volk! Hulle is sonder orde en sonder barmhartigheid. Kyk, ek is slegs ’n man, en ek het slegs die krag van ’n man en ek kan nie langer my bevele afdwing nie.

19 En hulle het sterk geword in hul goddeloosheid; en hulle is almal ewe wreed, en spaar niemand, nóg oud, nóg jonk; en hulle skep behae in alles behalwe dit wat goed is; en die lyding van ons vroue en ons kinders op die hele aangesig van hierdie land oortref alles; ja, die tong kan nie vertel nie, nóg kan dit geskrywe word.

20 En nou, my seun, ek talm nie langer by hierdie verskriklike toneel nie. Kyk, jy ken die boosheid van hierdie volk; jy weet dat hulle sonder beginsel is, en gevoelloos; en hulle boosheid oortref dié van die Lamaniete.

21 Kyk, my seun, ek kan hulle nie by God aanbeveel nie, uit vrees dat Hy my sou slaan.

22 Maar kyk, my seun, ek beveel jou aan by God, en ek vertrou op Christus dat jy gered sal word; en ek bid tot God dat hy jou lewe sal spaar, om te getuig van die terugkeer van sy volk tot Hom, of hulle algehele vernietiging; want ek weet dat hulle moet vergaan tensy hulle bekeer en terugkeer tot Hom.

23 En as hulle vergaan, sal dit wees soos met die Jerediete, vanweë die moedswilligheid van hul harte, en hulle soeke na bloed en wraak.

24 En as dit so is dat hulle vergaan, weet ons dat baie van ons broers oorgeloop het na die Lamaniete, en baie meer sal ook oorgaan na hulle; daarom, skryf so ’n paar dinge, as jy gespaar bly en ek omkom en jou nie sien nie; maar ek vertrou dat ek jou spoedig sal sien; want ek het heilige kronieke wat ek aan jou wil oorhandig.

25 My seun, wees getrou in Christus; en mag die dinge wat ek geskryf het, jou nie bedroef, om jou terneer te druk tot die dood toe nie; maar mag Christus jou ophef, en mag sy lydings en dood en die toon van sy liggaam aan ons vaders, en sy barmhartigheid en lankmoedigheid, en die hoop vir sy heerlikheid en vir die ewige lewe, vir ewig in jou gedagtes rus.

26 En mag die genade van God die Vader, wie se troon hoog in die hemele is, en ons Here Jesus Christus, wat sit aan die regterhand van sy krag, totdat alle dinge onderworpe aan Hom sal wees, en ewig met jou wees en bly. Amen.