Hoofstuk 42
Sterflikheid is ’n proeftydperk om die mens in staat te stel om te bekeer en God te dien—Die Val het die tydelike en geestelike dood oor die hele mensdom gebring—Verlossing kom deur bekering—God self doen versoening vir die sondes van die wêreld—Barmhartigheid is vir diegene wat bekeer—Alle ander is onderhewig aan God se geregtigheid—Barmhartigheid kom vanweë die Versoening—Slegs die ware bekeerdes word gered. Ongeveer 74 v.C.
1 En nou, my seun, ek merk dat daar ietwat meer is wat jou gemoed verontrus, wat jy nie kan verstaan nie—wat aangaande die geregtigheid van God ten opsigte van die bestraffing van die sondaar is; want jy probeer om te veronderstel dat dit onregverdig is dat die sondaar toegewys moet word tot ’n toestand van ellende.
2 Nou kyk, my seun, ek sal hierdie ding aan jou verduidelik. Want kyk, nadat die Here God ons eerste ouers uitgestuur het uit die tuin van Eden, om die grond te bewerk waarvandaan hulle geneem is—ja, Hy het die mens uitgeneem, en Hy het aan die oostekant van die tuin van Eden gérubs geplaas, en ’n vlammende swaard wat in elke rigting gedraai het, om die boom van die lewe te bewaak—
3 Nou, ons sien dat die mens soos God geword het, omdat hy goed en kwaad ken; en sodat hy nie sy hand sou uitsteek, en ook van die boom van die lewe neem, en eet en vir ewig lewe nie, het die Here God gérubs en die vlammende swaard geplaas, sodat hy nie van die vrugte sou eet nie—
4 En so sien ons, dat daar aan die mens ’n tyd gegun is om te bekeer, ja, ’n proeftydperk, ’n tyd om te bekeer en God te dien.
5 Want kyk, as Adam dadelik sy hand uitgesteek het en van die boom van die lewe geëet het, sou hy vir ewig gelewe het, volgens die woord van God, omdat hy geen tyd gehad het vir bekering nie; ja, en ook die woord van God sou vergeefs gewees het, en die groot heilsplan sou verydel gewees het.
6 Maar kyk, dit was vir die mens bepaal om te sterwe—daarom, soos hulle afgesny was van die boom van die lewe sou hulle afgesny word van die aangesig van die aarde—en die mens het vir ewig verlore geword, ja, hulle het gevalle mense geword.
7 En nou, jy sien hieruit dat ons eerste ouers afgesny was beide stoflik en geestelik van die teenwoordigheid van die Here; en so sien ons dat hulle onderworpe geword het aan hulle eie wil;
8 Nou kyk, dit was nie raadsaam dat die mens herwin sou word van hierdie stoflike dood nie, want dit sou die groot plan van geluk vernietig het.
9 Daarom, omdat die siel nooit kon sterwe nie, en die val oor die hele mensdom ’n geestelike dood sowel as ’n stoflike gebring het, dit is, hulle is afgesny van die teenwoordigheid van die Here, daarom was dit raadsaam dat die mensdom herwin moes word van hierdie geestelike dood.
10 Daarom, omdat hulle vleeslik, wellustig en duiwels van aard geword het, het hierdie proeftoestand ’n toestand geword vir hulle om voor te berei; dit het ’n voorbereidende toestand geword.
11 En nou, onthou my seun, as dit nie vir die plan van verlossing was nie (deur dit tersyde te lê) sodra hulle dood was, sou hulle siele ellendig wees, omdat hulle afgesny sou gewees het van die teenwoordigheid van die Here.
12 En nou, daar was geen wyse om mense te herwin uit hierdie gevalle toestand nie, wat die mens oor homself gebring het vanweë sy eie ongehoorsaamheid;
13 Daarom, volgens geregtigheid, kon die plan van verlossing nie verwesenlik word nie, behalwe op voorwaardes van bekering van die mens in hierdie toetsing; ja, hierdie voorbereidende toestand; want tensy dit vir hierdie voorwaardes was, kon barmhartigheid nie van krag wees nie, tensy dit die werk van geregtigheid sou vernietig. Nou kon die werk van geregtigheid nie vernietig word nie; indien wel, sou God ophou om God te wees.
14 En so sien ons dat die hele mensdom gevalle was, en hulle was in die greep van geregtigheid, ja, die geregtigheid van God, wat hulle toegewys het om vir ewig afgesny te word van sy teenwoordigheid.
15 En nou, die plan van barmhartigheid kon nie teweeg gebring word nie, behalwe as ’n versoening gedoen sou word; daarom versoen God self vir die sondes van die wêreld, om die plan van barmhartigheid teweeg te bring, om die eise van geregtigheid te bevredig, sodat God ’n volmaakte, regverdige God, en ’n barmhartige God, ook mag wees.
16 Nou, bekering kon nie tot mense kom tensy daar ’n straf was nie, wat ook ewig was soos die lewe van die siel moet wees, gekoppel in teenstelling met die plan van geluk, wat ook so ewig was soos die lewe van die siel.
17 Nou, hoe kon ’n mens bekeer tensy hy sou sondig? Hoe kon hy sondig as daar geen wet was nie? Hoe kon daar ’n wet wees tensy daar ’n straf was?
18 Nou, daar was ’n straf gekoppel, en ’n regverdige wet gegee, wat berou van gewete vir die mens gebring het.
19 Nou, as daar geen wet gegee was nie—as ’n mens gemoor het, moes hy sterwe—sou hy vrees dat hy sou sterwe as hy sou moord pleeg?
20 En ook, as daar geen wet gegee was teen sonde nie, sou mense nie bang gewees het om te sondig nie.
21 En as daar geen wet gegee was as mense gesondig het nie, wat kon geregtigheid doen, of barmhartigheid, want hulle sou geen aanspraak hê op die skepsel nie?
22 Maar daar is ’n wet gegee, en ’n straf gekoppel, en ’n bekering gegun; welke bekering aanspraak maak op barmhartigheid; anders maak geregtigheid aanspraak op die skepsel en voer die wet uit en die wet pas die straf toe; indien nie, sou die werke van geregtigheid vernietig word, en God sou ophou om God te wees.
23 Maar God hou nie op om God te wees nie, en barmhartigheid maak aanspraak op die bekeerdes, en barmhartigheid kom vanweë die versoening; en die versoening bring die opstanding van die dode teweeg; en die opstanding van die dode bring mense terug in die teenwoordigheid van God; en so word hulle herstel tot sy teenwoordigheid, om geoordeel te word volgens hulle werke, volgens die wet en geregtigheid.
24 Want kyk, die geregtigheid laat geld al sy eise, en genade maak ook aanspraak op alles wat haar eie is; en dus word niemand behalwe die ware bekeerdes gered nie.
25 Wat, veronderstel jy dat barmhartigheid geregtigheid kan berowe? Ek sê vir jou, Nee, nie die geringste nie. Indien wel, sou God ophou om God te wees.
26 En so bring God sy groot en ewige doelstellings teweeg, wat berei is vanaf die grondlegging van die wêreld. En so kom die heil en die verlossing van die mense tot stand, en ook hulle vernietiging en ellende.
27 Daarom, o my seun, wie ook al wil kom, mag kom en vryelik drink van die waters van die lewe; en wie ook al nie wil kom nie, hy word nie gedwing om te kom nie; maar op die laaste dag sal dit aan hom herstel word volgens sy dade.
28 As hy begeer het om boosheid te doen, en nie bekeer het in sy dae nie, kyk, boosheid sal aan hom gedoen word, volgens die herstelling van God.
29 En nou, my seun, ek wil hê dat hierdie dinge jou nie meer moet verontrus nie, en laat net jou sondes jou verontrus, met daardie verontrusting wat jou tot bekering sal bring.
30 O my seun, ek wil hê dat jy nie langer die geregtigheid van God moet loën nie. Moenie probeer om jouself te verontskuldig op die geringste punt vanweë jou sondes, deur die geregtigheid van God te loën nie; maar laat die geregtigheid van God en sy barmhartigheid, en sy lankmoedigheid jou hart ten volle beheers; en laat dit jou afbring tot die stof in verootmoediging.
31 En nou, o my seun, jy word geroep deur God om die woord aan hierdie volk te preek. En nou, my seun, gaan voort, verkondig die woord met waarheid en erns, sodat jy siele tot bekering mag bring, sodat die groot plan van barmhartigheid sy aanspraak op hulle mag hê. En mag God aan jou gun, en wel volgens my woorde. Amen.