Hoofstuk 4
(Junie–Oktober 1830)
Hoe Satan die duiwel geword het—Hy versoek Eva—Adam en Eva val, en die dood kom die wêreld binne.
1 En Ek, die Here God, het met Moses gespreek, en gesê: Daardie Satan, vir wie jy beveel het in die Naam van my Eniggeborene, is dieselfde wat vanaf die begin was, en hy het voor my gekom en gesê—Kyk, hier is ek, stuur my, ek sal u seun wees, en ek sal die ganse mensdom verlos, dat nie een siel verlore sal gaan nie, en sekerlik sal ek dit doen; daarom gee my u eer.
2 Maar, kyk, my Geliefde Seun, wat my Geliefde en Uitverkorene was vanaf die begin, het vir My gesê—Vader, u wil geskied, en die heerlikheid behoort aan U vir ewig.
3 Daarom, omdat daardie Satan teen My gerebelleer het, en gesoek het om die handelingsmag van die mens te vernietig, wat Ek, die Here God, aan hom gegee het, en ook, dat Ek aan hom my eie mag moes gee; deur die mag van my Eniggeborene, het Ek hom laat neerwerp;
4 En hy het Satan geword, ja, naamlik die duiwel, die vader van alle leuens, om die mens te verlei en te verblind, en om hulle gevangene te neem volgens sy wil, en wel almal wat nie wou ag slaan op my stem nie.
5 En nou, die slang was listiger as enige dier van die veld wat Ek, die Here God, gemaak het.
6 En Satan het dit in die hart van die slang geplaas, (want hy het baie agter hom aan getrek,) en hy het ook gesoek om Eva te bedrieg, want hy het nie die wil van God geken nie, daarom het hy gesoek om die wêreld te vernietig.
7 En hy het vir die vrou gesê: Ja, het God gesê—Julle sal nie eet van elke boom van die tuin nie? (En hy het by monde van die slang gepraat.)
8 En die vrou het vir die slang gesê: Ons mag van die vrugte van die bome in die tuin eet;
9 Maar van die vrug van die boom wat jy aanskou in die middel van die tuin, het God gesê—Julle sal nie daarvan eet nie, nóg sal julle daaraan raak, sodat julle nie sterwe nie.
10 En die slang het vir die vrou gesê: Julle sal nie sekerlik sterwe nie;
11 Want God weet dat op die dag wat julle daarvan eet, dan sal julle oë geopen word, en julle sal soos gode wees, en goed en kwaad ken.
12 En toe die vrou sien dat die boom goed was vir voedsel, en dat dit aangenaam geword het vir die oë, en ’n boom om begeer te word om haar wys te maak, het sy van die vrug daarvan geneem, en het geëet, en ook aan haar man gegee by haar, en hy het geëet.
13 En die oë van albei van hulle is geopen, en hulle het besef dat hulle nakend was. En hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulleself voorskote gemaak.
14 En hulle het die stem van die Here God gehoor, terwyl hulle in die tuin gewandel het, in die koelte van die dag; en Adam en sy vrou het hulleself verberg van die teenwoordigheid van die Here God tussen die bome van die tuin.
15 En Ek, die Here God, het Adam geroep en vir hom gesê: Waarheen gaan jy?
16 En hy het gesê: Ek het u stem in die tuin gehoor, en ek was bevrees, omdat ek besef het dat ek nakend was, en het myself verberg.
17 En Ek, die Here God, het vir Adam gesê: Wie het jou vertel dat jy nakend was? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou gebied het dat jy nie moes eet nie, indien wel, sal jy sekerlik sterwe?
18 En die man het gesê: Die vrou wat U my gegee het, en gebied het dat sy by my moes bly, sy het my van die vrug van die boom gegee en ek het geëet.
19 En Ek, die Here God, het vir die vrou gesê: Wat is hierdie ding wat jy gedoen het? En die vrou het gesê: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.
20 En Ek, die Here God, het vir die slang gesê: Omdat jy dit gedoen het, sal jy vervloek wees bo alle vee, en bo elke dier van die veld; op jou buik sal jy seil, en stof sal jy eet al die dae van jou lewe;
21 En Ek sal vyandskap plaas tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad; en hy sal jou kop verbrysel, en jy sal sy hakskeen verbrysel.
22 Aan die vrou het Ek, die Here God, gesê: Ek sal jou smart en jou swangerskap grootliks vermeerder. In smart sal jy kinders voortbring, en jou begeerte sal na jou man wees, en hy sal oor jou heers.
23 En aan Adam, het Ek, die Here God, gesê: Omdat jy ag geslaan het op die stem van jou vrou, en geëet het van die vrug van die boom waarvan Ek jou gebied, en gesê het—Jy sal nie daarvan eet nie, vervloek sal die grond wees vanweë jou; in smart sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.
24 Dorings ook, en distels sal dit voortbring vir jou, en jy sal van die plante van die veld eet.
25 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet, totdat jy terugkeer na die grond—want jy sal sekerlik sterwe—want daaruit is jy geneem, want stof was jy, en na stof sal jy terugkeer.
26 En Adam het sy vrou se naam Eva genoem, omdat sy die moeder was van alle lewendes; want so het Ek, die Here God, die eerste van alle vroue genoem, wat baie is.
27 Vir Adam, en ook vir sy vrou, het Ek, die Here God, kleding van vel gemaak, en hulle geklee.
28 En Ek, die Here God, het vir my Eniggebore gesê: Kyk, die man het soos een van Ons geword om goed en kwaad te ken; en nou, sodat hy nie sy hand uitsteek en ook neem van die boom van die lewe, en eet en vir ewig lewe nie,
29 Daarom Ek, die Here God, sal hom uit die Tuin van Eden stuur, om die grond te bewerk waaruit hy geneem is;
30 Want soos Ek, die Here God, leef, net so kan my woorde nie leeg terugkeer nie, want soos hulle uitgaan uit my mond, moet hulle vervul word.
31 Dus het Ek die man uitgedryf, en in die ooste van die Tuin van Eden het Ek gérubs en ’n vlammende swaard geplaas, wat na elke kant gedraai het om die weg na die boom van die lewe te bewaak.
32 (En hierdie is die woorde wat Ek tot my dienskneg Moses gespreek het, en hulle is waar, en wel soos Ek wil; en Ek het hulle aan jou gespreek. Sien dat jy hulle aan geen mens toon nie, totdat Ek jou gebied, behalwe aan hulle wat glo. Amen.)