Die Boek van Alma
Die Seun van Alma
Die kroniek van Alma, wat die seun was van Alma, die eerste en hoofregter oor die volk van Nefi, en ook die hoëpriester oor die Kerk. ’n Kroniek van die heerskappy van die regters, en die oorloë en twiste onder die volk. En ook ’n kroniek van ’n oorlog tussen die Nefiete en die Lamaniete, volgens die kroniek van Alma, die eerste en hoofregter.
Hoofstuk 1
Nehor leer valse leerstellings, vestig ’n kerk, voer priesterlis in, en maak Gídeon dood—Nehor word tereggestel vir sy misdade—Priesterlis en vervolgings versprei onder die volk—Die priesters onderhou hulself, die volk sorg vir die armes, en die Kerk is voorspoedig. Ongeveer 91–88 v.C.
1 Nou het dit gebeur dat in die eerste jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi, vanaf hierdie tyd, het koning Mosia wat die weg gegaan het van die ganse aarde, en ’n goeie stryd gestry het, en opreg gewandel het voor God, en niemand gelaat om te heers in sy plek nie; nogtans het hy wette uitgevaardig, en hulle is erken deur die volk; daarom was hulle verplig om die wette te gehoorsaam wat hy gemaak het.
2 En dit het gebeur dat in die eerste jaar van die heerskappy van Alma in die regterstoel, was daar ’n man wat voor hom gebring is om geoordeel te word, ’n man wat groot was, en bekend was vir sy groot krag.
3 En hy het rondgegaan onder die volk, en aan hulle gepreek dit wat hy as die woord van God bestempel het, en die kerk teengestaan, en aan die volk verklaar dat elke priester en leraar gewild behoort te word; en dat hulle nie met hulle hande behoort te arbei nie, maar dat hulle deur die volk onderhou behoort te word.
4 En hy het ook aan die volk getuig dat die hele mensdom gered sal word op die laaste dag, en dat hulle nie hoef te vrees of te bewe nie, maar dat hulle hul hoofde mag oprig en juig; want die Here het alle mense geskape, en het ook alle mense verlos; en, aan die einde, sal alle mense die ewige lewe hê.
5 En dit het gebeur dat hy hierdie dinge geleer het tot so ’n mate dat baie in sy woorde geglo het, en selfs soveel dat hulle hom begin ondersteun en hom geld gegee het.
6 En hy het begin om verhewe te word in die hoogmoed van sy hart, en om baie kosbare kleding te dra, ja, en selfs begin het om ’n kerk te stig volgens die wyse van sy prediking.
7 En dit het gebeur dat terwyl hy gaan om te preek vir diegene wat geglo het in sy woord, het hy ’n man ontmoet wat aan die kerk van God behoort het; ja, en wel een van hulle leraars, en hy het begin om hewig te stry met hom, sodat hy die volk van die kerk mag weglei; maar die man het hom weerstaan, en hom vermaan met die woorde van God.
8 Nou was die naam van die man Gídeon; en dit was hy wat ’n werktuig was in die hande van God om die volk van Limhi te verlos uit slawerny.
9 Nou, omdat Gídeon hom weerstaan het met die woorde van God, was hy vertoornd op Gídeon, en het sy swaard uitgetrek en begin om hom te slaan. Nou Gídeon, omdat hy al baie oud was, was daarom nie in staat om sy houe te weerstaan nie, daarom is hy deur die swaard gedood.
10 En die man wat hom doodgeslaan het, is deur die mense van die kerk geneem en is voor Alma gebring, om geoordeel te word volgens die misdade wat hy gepleeg het.
11 En dit het gebeur dat hy voor Alma gestaan het en vir homself gepleit het met groot moedigheid.
12 Maar Alma het aan hom gesê: Kyk, dit is die eerste keer dat priesterlis ingevoer is onder hierdie volk. En kyk, jy is nie net skuldig aan priesterlis nie, maar het gepoog om dit af te dwing deur die swaard; en as priesterlis op hierdie volk afgedwing word, sal dit lei tot hul algehele vernietiging.
13 En jy het die bloed gestort van ’n regverdige man, ja, ’n man wat baie goed gedoen het onder hierdie volk; en as ons jou lewe sou spaar, sou sy bloed oor ons kom om wraak te neem.
14 Daarom word jy veroordeel om te sterwe, volgens die wet wat ons gegee is deur Mosia, ons laaste koning; en dit is erken deur hierdie volk; daarom moet hierdie volk die wet gehoorsaam.
15 En dit het gebeur dat hulle hom geneem het; en sy naam was Nehor; en hulle het hom gedra tot bo-op die heuwel Manti, en hy was daartoe gebring, of eerder het erken, tussen die hemele en die aarde, dat wat hy aan die volk geleer het, teenstrydig was met die woord van God; en daar het hy ’n skanddood gesterwe.
16 Nogtans, dit het nie ’n einde gemaak aan die verspreiding van priesterlis deur die land nie; want daar was baie wat die ydele dinge van die wêreld liefgehad het, en hulle het uitgegaan en valse leerstellings gepredik; en dit het hulle gedoen ter wille van rykdom en eer.
17 Nogtans, hulle het nie gedurf om te lieg nie, indien dit bekend word, uit vrees vir die wet, want leuenaars is gestraf; daarom het hulle voorgegee om te preek volgens hulle geloof; en nou kon die wet geen mag hê oor enige man oor sy geloof nie.
18 En hulle het nie gedurf om te steel nie, uit vrees vir die wet, want sulkes is gestraf; nóg het hulle gewaag om te roof, of te moor, want hy wat moord gepleeg het is gestraf met die dood.
19 Maar dit het gebeur dat wie ook al nie behoort het aan die kerk van God nie, begin het om diegene te vervolg wat wel aan die kerk van God behoort het, en die Naam van Christus op hulle geneem het.
20 Ja, hulle het hulle vervolg, en hulle gekwel met allerhande woorde, en dit vanweë hulle ootmoed; omdat hulle nie hoogmoedig was in hul eie oë nie, en omdat hulle die woord van God meegedeel het, die een aan die ander, sonder geld en sonder prys.
21 Nou was daar ’n streng wet onder die mense van die kerk, dat daar geen mens, wat aan die kerk behoort, sal opstaan en diegene vervolg wat nie aan die kerk behoort nie, en dat daar geen vervolging onder hulleself moes wees nie.
22 Nogtans, daar was baie onder hulle wat begin het om hoogmoedig te word, en begin het om kwaai met hulle teenstanders te stry, selfs tot slae; ja, hulle het mekaar met hulle vuiste geslaan.
23 Nou dit was in die tweede jaar van die heerskappy van Alma, en dit was ’n oorsaak van baie verdrukking vir die kerk; ja, dit was die oorsaak van baie beproewing vir die kerk.
24 Want die harte van baie was verhard, en hulle name is uitgewis, sodat hulle nie langer in gedagte gebring is onder die volk van God nie. En ook het baie hulle onttrek uit hulle midde.
25 Nou was dit ’n groot beproewing vir diegene wat wel vasgestaan het in die geloof; nogtans, hulle was standvastig en onbeweeglik in die onderhouding van die gebooie van God, en hulle het met geduld die vervolging verdra wat op hulle gehoop is.
26 En toe die priesters hul arbeid verlaat het om die woord van God aan die volk mee te deel, het die volk ook hulle arbeid verlaat om die woord van God te hoor. En toe die priester aan hulle die woord van God meegedeel het, het hulle almal weer ywerig teruggekeer na hul arbeid; en die priester het homself nie hoër geag as sy hoorders nie, want die prediker was niks beter as die hoorder nie, nóg was die leraar enigsins beter as die leerling; en dus was almal gelyk, en hulle het almal gearbei, elke man volgens sy krag.
27 En hulle het van hul besittings gedeel, elke man volgens dit wat hy gehad het, aan die armes, en die behoeftiges, en die siekes, en die verdruktes; en hulle het nie kosbare kleding gedra nie, tog was hulle netjies en aantreklik.
28 En so het hulle die sake van die kerk gevestig; en so het hulle begin om weer voortdurende vrede te hê, nieteenstaande al hul vervolginge.
29 En nou, vanweë die standvastigheid van die kerk het hulle begin om uitermate ryk te word, en het ’n oorvloed gehad van alle dinge waaraan hulle ook al ’n behoefte gehad het—’n oorvloed van kleinvee en grootvee, en vetgemaakte vee van alle soorte, en ook ’n oorvloed van graan, en van goud, en van silwer, en van kosbare dinge, en ’n oorvloed van sy en fyngeweefde linne, en allerlei soorte goeie eenvoudige materiaal.
30 En so, onder hul voorspoedige omstandighede, het hulle niemand weggestuur wat naak was, of wat honger was, of wat dors was, of wat siek was, of wat nie gevoed was nie; en hulle het nie hulle harte gerig op rykdomme nie; daarom was hulle vrygewig teenoor almal, beide oud en jonk, beide slaaf en vry, beide manlik en vroulik, hetsy buite die kerk of in die kerk, en sonder aansien van persoon wat betref dié wat behoeftig was.
31 En so het hulle voorspoedig geword en baie ryker geword as dié wat nie behoort het aan hulle kerk nie.
32 Want diegene wat nie behoort het aan hulle kerk nie het deelgeneem aan towery, en aan afgodery of luiheid, en aan onsinnige praatjies, en aan nydigheid en onenigheid; en het kosbare kleding gedra; en was verhef in die hoogmoed van hulle eie oë; hulle het vervolg, gelieg, gesteel, geroof, hoererye gepleeg, en gemoor, en allerlei booshede; nogtans, die wet is afgedwing op al diegene wat dit oortree het, in soverre dit moontlik was.
33 En dit het gebeur dat deur die wet sodoende op hulle toe te pas, en elke mens gely het volgens wat hy gedoen het, het hulle stiller geword, en het nie gedurf om enige boosheid te pleeg nie, uit vrees dat dit bekend sou word; daarom, daar was baie vrede onder die volk van Nefi tot die vyfde jaar van die heerskappy van die regters.