Hoofstuk 2 Lehi Waarsku die Volk Meeste van die mense wat 600 jaar voor die geboorte van Christus in Jerusalem gewoon het, was goddeloos. God het profete gestuur om vir hulle te sê om te bekeer, maar hulle wou nie luister nie. 1 Nefi 1:4 Lehi was ʼn profeet. Hy het gebid dat die mense hulle moes bekeer. Terwyl hy besig was om te bid, het ʼn kolom van vuur verskyn. God het Lehi baie dinge vertel en gewys. 1 Nefi 1:5–6 Lehi het teruggegaan huis toe en het ʼn visioen gehad. Hy het God gesien, omring deur baie engele. Die engele het gesing en God geprys. 1 Nefi 1:7–8 In sy visioen is Lehi ʼn boek gegee wat vertel het wat in die toekoms sou gebeur. Hy het gelees dat Jerusalem verwoes sou word omdat die mense goddeloos was. 1 Nefi 1:11–13 Lehi het vir die mense vertel dat Jerusalem verwoes sou word. Hy het ook vertel van die koms van Jesus. Die mense was kwaad en het probeer om Lehi dood te maak, maar die Here het hom beskerm. 1 Nefi 1:18–20