Hoofstuk 30 Alma Gee Raad aan Sy Seuns Alma was ongelukkig oor hoe goddeloos die Nefiete geword het. Hy het met elkeen van sy seuns gepraat oor ʼn regverdige leefwyse. Alma 35:15–16 Alma het vir Helaman, sy oudste seun, gesê om op God te vertrou. Hy het hom van die engel vertel wat God gestuur het om vir Alma te sê om op te hou om die Kerk te verwoes. Alma 36:3, 6 Vir drie dae het hy gely as gevolg van sy skuldgevoelens. Toe het hy sy vader se leringe oor Jesus onthou, en het hy geweet dat sy sondes vergewe kon word. Alma 36:16–17 Alma het gebid om vergifnis, en vreugde het die pyn in sy siel vervang. Hy was vergewe omdat hy geloof in Jesus Christus gehad het en bekeer het. Alma 36:18–20 Van toe af het Alma die evangelie aan ander verkondig sodat hulle dieselfde vreugde as hy kon voel. God het vir Alma geseën omdat hy op God vertrou het. Alma 36:24, 27 Alma het vir Helaman die heilige rekords gegee en vir hom gesê om aan te hou om die geskiedenis van sy volk neer te skryf. Alma 37:1–2 Alma het vir hom gesê dat as hy die gebooie onderhou, sal God hom seën en hom help om die rekords te beskerm. Alma 37:13, 16 Alma het ook vir Helaman gesê om elke oggend en aand te bid en met God te praat oor alles wat hy doen sodat God hom in alles kon lei. Alma 37:36-37 Alma was gelukkig met sy seun Sjiblon, wat ʼn dapper sendeling was aan die Zoramiete. Sjiblon het getrou gebly selfs toe hulle hom gestenig het. Alma 38:3–4 Alma het Sjiblon herinner dat die enigste manier om gered te word is deur Jesus Christus. Alma het sy seun toe aangemoedig om aan te hou om die evangelie te verkondig. Alma 38:9–10 Alma se seun Corianton het nie die gebooie onderhou nie. Hy was nie ʼn getroue sendeling terwyl hy die Zoramiete geleer het nie. Alma 39:2–3 As gevolg van wat Corianton gedoen het, wou die Zoramiete nie in Alma se woorde glo nie. Alma 39:11 Alma het vir Corianton gesê dat mense nie hul sondes vir God kan wegsteek nie, en dat Corianton moes bekeer. Alma 39:8–9 Alma het sy seun geleer dat almal opgewek sal word, maar slegs die regverdiges sal saam met God lewe. Alma 40:9–10, 25–26 Hierdie lewe is die tyd vir mense om te bekeer en om God te dien, het Alma gesê. Alma 42:4 Nadat Alma Corianton herinner het dat hy geroep is om ʼn sendeling te wees, het hy gesê hy moet terugkeer na die Zoramiete en hulle leer om te bekeer. Alma 42:31 Alma en sy seuns het aangehou om die evangelie te verkondig. Hulle het deur die mag van die priesterskap geleer. Alma 43:1–2