Hoofstuk 7
(Desember 1830)
Henog onderrig, lei die volk, en versit berge—Die stad Sion word gevestig—Henog voorsien die koms van die Seun van die Mens, sy soenoffer, en die opstanding van die heiliges. Hy voorsien die Herstelling, die Versameling, die Tweede Koms, en die terugkeer van Sion.
1 En dit het gebeur dat Henog sy toespraak voortgesit het, en gesê het: Kyk, ons vader Adam het hierdie dinge geleer, en vele het geglo en die seuns van God geword, en vele het nie geglo nie, en het vergaan in hulle sondes en wag met vrees, in pyniging, op die vurige verontwaardiging van die toorn van God om op hulle uitgestort te word.
2 En van daardie tyd af aan het Henog begin om te profeteer, en sê vir die volk, dat: Terwyl ek gereis het, en op die plek Mahuja gestaan, en tot die Here geroep het, het daar ’n stem uit die hemel gekom wat sê—Draai jou om, en gaan op in die berg Símeon.
3 En dit het gebeur dat ek omgedraai het en opgegaan het in die berg; en terwyl ek op die berg gestaan het, het ek die hemele geopen aanskou, en ek is met heerlikheid beklee;
4 En ek het die Here gesien; en hy het voor my aangesig gestaan, en Hy het met my gepraat, net soos ’n mens die een met die ander praat, van aangesig tot aangesig; en Hy het vir my gesê: Kyk, en Ek sal aan jou die wêreld vir ’n tydperk van vele geslagte toon.
5 En dit het gebeur dat ek in die vallei Sjum gesien het, en kyk, ’n groot volk wat in tente gewoon het, wat die volk van Sjum was.
6 En weer het die Here vir my gesê: Kyk, en ek het na die noorde gekyk, en het die volk van Kanaän aanskou, wat in tente gewoon het.
7 En die Here het vir my gesê: Profeteer; en ek het geprofeteer, en gesê: Kyk die volk van Kanaän, wat talryk is, sal uitgaan in slagorde teen die volk van Sjum, en sal hulle doodmaak sodat hulle heeltemal vernietig sal word; en die volk van Kanaän sal hulleself verdeel in die land, en die land sal dor en onvrugbaar wees, en geen ander volk sal daar woon nie behalwe die volk van Kanaän;
8 Want kyk, die Here sal die land vervloek met baie hitte, en die dorheid daarvan sal vir ewig voortduur, en ’n donkerheid het oor al die kinders van Kanaän gekom, sodat hulle verag is onder alle volke.
9 En dit het gebeur dat die Here vir my gesê het: Kyk, en ek het gekyk, en die land Saron aanskou, en die land Henog, en die land Omner, en die land Heni, en die land Sem, en die land Haner, en die land Hananniha en al die inwoners daarvan;
10 En die Here het vir my gesê: Gaan na hierdie volk; en sê vir hulle—Bekeer, sodat Ek nie uitkom en julle met ’n vloek tref, en hulle sterf nie.
11 En Hy het aan my ’n gebod gegee dat ek moes doop in die Naam van die Vader, en van die Seun, wat vol genade en waarheid is, en van die Heilige Gees, wat getuienis lewer van die Vader en die Seun.
12 En dit het gebeur dat Henog voortgegaan het om al die volke op te roep, behalwe die volk van Kanaän, om te bekeer.
13 En so groot was die geloof van Henog dat hy die volk van God gelei het, en hulle vyande het opgeruk om teen hulle te veg; en hy het die woord van die Here gespreek, en die aarde het gebewe, en die berge het gevlug, en wel ooreenkomstig sy bevel; en die riviere van water het hulle koers verander; en die gebrul van leeus is gehoor vanuit die wildernis; en alle nasies het grootliks gevrees, so kragtig was die woord van Henog, en so groot was die krag van die taal wat God hom gegee het.
14 Daar het ook ’n land opgekom uit die diepte van die see, en so groot was die vrees van die vyande van die volk van God, dat hulle gevlug en op ’n afstand gestaan het en het op die land gegaan wat uit die diepte van die see gekom het.
15 Al die reuse van die land, ook, het op ’n afstand gestaan; en daar het ’n vloek uitgegaan op al die mense wat teen God geveg het;
16 En vanaf daardie tyd was daar oorloë en bloedvergieting onder hulle; maar die Here het gekom en saam met sy volk gewoon, en hulle het in regverdigheid gewoon.
17 Die vrees van die Here was oor alle nasies, so groot was die heerlikheid van die Here, wat op sy volk was. En die Here het die land geseën, en hulle is geseën op die berge, en op die hoë plekke, en het floreer.
18 En die Here het sy volk Sion genoem, omdat hulle van een hart was en een gesindheid, en in regverdigheid gewoon het; en daar was geen armes onder hulle nie.
19 En Henog het sy prediking aan die volk van God in regverdigheid voortgesit. En dit het gebeur in sy dae dat hy ’n stad gebou het wat die Stad van Heiligheid genoem is, naamlik Sion.
20 En dit het gebeur dat Henog met die Here gepraat het; en hy het vir die Here gesê: Sekerlik sal Sion vir ewig in veiligheid woon. Maar die Here het vir Henog gesê: Sion het Ek geseën, maar die oorblyfsel van die volk het Ek vervloek.
21 En dit het gebeur dat die Here aan Henog al die inwoners van die aarde getoon het; en hy het aanskou, en sien, met die verloop van tyd is Sion in die hemel opgeneem. En die Here het vir Henog gesê: Aanskou my woonplek vir ewig.
22 En Henog het ook die oorblyfsel van die mense wat die seuns van Adam was, aanskou; en hulle was ’n mengsel van al die saad van Adam, behalwe die saad van Kain, want die saad van Kain was swart, en het nie plek onder hulle gehad nie.
23 En daarna is Sion in die hemel opgeneem, en Henog het aanskou, en sien, al die nasies van die aarde was voor hom;
24 En geslag op geslag het gekom; en Henog was hoog en verhef, en wel in die boesem van die Vader, en van die Seun van die Mens; en kyk, die mag van Satan was op die hele aangesig van die aarde.
25 En hy het engele sien neerdaal uit die hemel; en hy het ’n luide stem gehoor wat sê: Wee, wee die inwoners van die aarde.
26 En hy het Satan aanskou; en hy het ’n groot ketting in sy hand gehad, en dit het die hele aangesig van die aarde in duisternis versluier; en hy het opgekyk en gelag en sy engele het hulle verheug.
27 En Henog het engele aanskou wat neerdaal uit die hemel, wat getuienis lewer van die Vader en die Seun; en die Heilige Gees het op vele geval, en hulle is deur die magte van die hemel opgeneem in Sion.
28 En dit het gebeur dat die God van die hemel na die oorblyfsel van die mense gekyk het, en Hy het geween; en Henog het getuienis daarvan gelewer, en sê: Hoe is dit dat die hemele ween, en hulle trane uitstort soos die reën op die berge?
29 En Henog het vir die Here gesê: Hoe is dit dat U kan ween, aangesien U heilig is, en van alle ewigheid tot alle ewigheid?
30 En indien dit moontlik was dat die mens die deeltjies van die aarde kon tel, ja, miljoene aardes soos hierdie, sou dit nie ’n begin wees van die aantal van u skeppinge nie; en u tentdoeke is steeds uitgestrek; en tog is U daar, en u boesem is daar; en ook U is regverdig; U is barmhartig en goedhartig vir ewig;
31 En U het Sion na u eie boesem geneem, vanuit al u skeppings, van alle ewigheid tot alle ewigheid; en niks behalwe vrede, geregtigheid en waarheid is die woonplek van u troon nie; en barmhartigheid sal voor u aangesig uitgaan en geen einde hê nie; hoe is dit dat U kan ween?
32 Die Here het vir Henog gesê: Kyk hierdie jou broers; hulle is die werk van my eie hande, en Ek gee aan hulle hul kennis, op die dag wat Ek hulle geskape het; en in die Tuin van Eden het Ek aan die mens sy handelingsmag gegee;
33 En aan jou broers het Ek gesê, en ook ’n gebod gegee, dat hulle mekaar moet liefhê, en dat hulle My moet kies, hulle Vader; maar kyk, hulle is sonder liefde, en hulle haat hul eie bloed;
34 En die vuur van my verontwaardiging is ontstoke teen hulle; en in my hittige misnoeë sal Ek die vloede oor hulle stuur, want my toorn is teen hulle ontvlam.
35 Kyk, Ek is God; Man van Heiligheid is my Naam; Man van Raad is my Naam; en Eindeloos en Ewig is ook my Naam.
36 Daarom, Ek kan my hande uitstrek en al die skeppinge wat Ek gemaak het, hou; en my oog kan hulle ook deurdring, en onder al die werke van my hande was daar nie sulke groot boosheid as onder jou broers nie.
37 Maar kyk, hulle sondes sal op die hoofde van hulle vaders wees; Satan sal hulle vader wees, en ellende sal hul lot wees; en die ganse hemele sal oor hulle ween, naamlik al die werke van my hande; waarom moet die hemele nie ween nie, aangesien hierdie mense sal ly?
38 Maar kyk, hierdie waarop jou oë is, sal vergaan in die vloede; en kyk, Ek sal hulle opsluit; Ek het vir hulle ’n gevangenis voorberei.
39 En dit wat Ek gekies het, het voor my aangesig gepleit. Daarom het Hy gely vir hulle sondes; in soverre as hulle wil bekeer op die dag wat my Gekose na My sal terugkeer, en tot daardie dag sal hulle in pyniging wees.
40 Daarom, hieroor sal die hemele ween, ja, en al die werke van my hande.
41 En dit het gebeur dat die Here met Henog gespreek het, en Henog al die handelinge van die kinders van mense vertel het; daarom het Henog geweet, en hulle boosheid aanskou, en hulle ellende, en geween en sy arms uitgestrek het, en sy hart het so wyd as die ewigheid geswel, en sy binneste het gesmag; en alle ewigheid het geskud.
42 En Henog het ook vir Noag en sy familie gesien; dat die nageslag van al die seuns van Noag gered sou word met ’n stoflike redding;
43 Daarom, Henog het gesien dat Noag ’n ark gebou het; en dat dit die Here welgeval het, en dit in sy eie hand gehou het; maar oor die oorblyfsel van die bose het die vloede gekom en hulle ingesluk.
44 En toe Henog hierdie dinge sien, het hy bitterheid van siel gehad, en geween oor sy broers, en het aan die hemele gesê: Ek sal weier om vertroos te word; maar die Here het vir Henog gesê: Hef op jou hart, en wees bly; en kyk.
45 En dit het gebeur dat Henog gekyk het; en van Noag af het hy al die families van die aarde aanskou; en hy het tot die Here geroep en gesê: Wanneer sal die dag van die Here kom? Wanneer sal die bloed van die Regverdige gestort word, sodat al hulle wat treur, geheilig mag word en die ewige lewe hê?
46 En die Here het gesê: Dit sal in die middelpunt van tyd wees, in die dae van boosheid en wraak.
47 En kyk, Henog het die dag van die koms van die Seun van die Mens gesien, en wel in die vlees; en sy siel het hom verbly, en gesê: Die Regverdige word verhef, en die Lam word gedood van voor die grondlegging van die wêreld; en deur geloof is ek in die boesem van die Vader, en kyk, Sion is met my.
48 En dit het gebeur dat Henog na die aarde gekyk het; en hy het ’n stem gehoor van die binneste daarvan, wat sê: Wee, wee my, die moeder van mense; ek is gepynig, ek is uitgeput, vanweë die boosheid van my kinders. Wanneer sal ek rus, en gereinig word van die vieslikheid wat uit my uitgegaan het? Wanneer sal my Skepper my heilig, sodat ek mag rus, en regverdigheid vir ’n tydperk op my aangesig wees?
49 En toe Henog die aarde gehoor weeklaag het, het hy geween, en tot die Here geroep, en gesê: O Here, sal U nie ontferming hê teenoor die aarde nie? Sal U nie die kinders van Noag seën nie?
50 En dit het gebeur dat Henog sy geroep tot die Here voortgesit het, en gesê: Ek vra U, o Here, in die Naam van u Eniggeborene, naamlik Jesus Christus, dat U barmhartig sal wees teenoor Noag en sy saad, sodat die aarde nooit weer deur die vloede bedek mag word nie.
51 En die Here kon nie terughou nie; en Hy het ’n verbond gesluit met Henog, en ’n eed tot hom gesweer, dat Hy die vloede sal terughou; dat Hy die kinders van Noag sal aanroep;
52 En Hy het ’n onveranderlike bevel uitgestuur, dat ’n oorblyfsel van sy saad altyd onder die nasies te vinde moet wees, terwyl die aarde sal bly staan;
53 En die Here het gesê: Geseënd is hy deur wie se saad Messias sal kom; want Hy sê—Ek is Messias, die Koning van Sion, die Rots van die Hemel, wat wyd is soos die ewigheid; want wie ook al by die poort inkom en by My opklim sal nooit val nie; daarom, geseënd is hulle van wie Ek gespreek het, want hulle sal uitkom met liedere van ewigdurende vreugde.
54 En dit het gebeur dat Henog tot die Here geroep, en gesê het: Wanneer die Seun van die Mens in die vlees kom, sal die aarde rus? Ek smeek U, toon my hierdie dinge.
55 En die Here het vir Henog gesê: Kyk, en hy het gekyk en die Seun van die Mens gesien, opgehef op die kruis, volgens die wyse van die mens;
56 En hy het ’n luide stem gehoor; en die hemele is versluier; en al die skeppings van God het getreur; en die aarde het gekreun; en die rotse is geskeur; en die heiliges het opgestaan, en is gekroon aan die regterhand van die Seun van die Mens, met krone van heerlikheid.
57 En soveel van die geeste as wat in die gevangenis was, het uitgekom, en aan die regterhand van God gestaan; en die res is teruggehou in kettings van duisternis tot die oordeel van die groot dag.
58 En Henog het weer geween en tot die Here geroep, en gesê: Wanneer sal die aarde rus?
59 En Henog het die Seun van die Mens aanskou wat opvaar na die Vader; en hy het die Here aangeroep, en gesê: Wil U nie weer na die aarde kom nie? In soverre U God is, en ek ken U, en U het tot my gesweer, en my gebied dat ek in die Naam van u Eniggeborene moet vra; U het my gemaak, en my ’n reg tot u troon gegee, en nie vanweë myself nie, maar deur u eie genade; daarom, ek vra U of U nie weer na die aarde wil kom nie.
60 En die Here het vir Henog gesê: Sowaar Ek leef, net so sal Ek kom in die laaste dae, in die dae van boosheid en wraak, om die eed te vervul wat Ek met jou gemaak het aangaande die kinders van Noag;
61 En die dag sal kom dat die aarde sal rus, maar voor daardie dag sal die hemele verdonker word, en ’n sluier van duisternis sal die aarde bedek; en die hemele sal skud, en ook die aarde; en groot beproewings sal onder die kinders van mense wees, maar my volk sal Ek bewaar;
62 En regverdigheid sal Ek stuur uit die hemel; en waarheid sal Ek uitstuur van die aarde, om getuienis te lewer van my Eniggeborene; sy opstanding uit die dood; ja, en ook die opstanding van alle mense; en Ek sal regverdigheid en waarheid oor die aarde laat vee soos met ’n vloed, om my uitverkorenes uit die vier hoeke van die aarde te versamel, na ’n plek wat Ek sal voorberei, ’n Heilige Stad, sodat my volk hulle lendene mag omgord, en uitsien na die tyd van my koms; want daar sal my tabernakel wees, en dit sal Sion genoem word, ’n Nuwe Jerusalem.
63 En die Here het vir Henog gesê: Dan sal jy en jou hele stad hulle daar ontmoet, en ons sal hulle in ons boesem ontvang, en hulle sal ons sien; en ons sal hulle omhels, en hulle sal ons omhels, en ons sal mekaar kus;
64 En daar sal my woonplek wees, en dit sal Sion wees, wat sal uitkom uit al die skeppings wat Ek gemaak het; en vir die tydperk van ’n duisend jaar sal die aarde rus.
65 En dit het gebeur dat Henog die dag van die koms van die Seun van die Mens gesien het, in die laaste dae, om in regverdigheid te woon op die aarde vir die tydperk van ’n duisend jaar;
66 Maar voor daardie dag het hy groot beproewings onder die bose gesien; en hy het ook die see gesien, dat dit in beroering was, en mense se harte het hulle gefaal, en gewag in vrees op die oordele van die Almagtige God, wat oor die bose sou kom.
67 En die Here het vir Henog alle dinge getoon, selfs tot die einde van die wêreld; en hy het die dag van die regverdiges gesien, die uur van hulle verlossing, en het ’n volheid van vreugde ontvang;
68 En al die dae van Sion, in die dae van Henog, was driehonderd vyf en sestig jaar.
69 En Henog en al sy mense het met God gewandel, en Hy het in die midde van Sion gewoon; en dit het gebeur dat Sion nie was nie, want God het dit ontvang in sy eie boesem; en vandaar het die gesegde uitgegaan, Sion het gevlug.