Skrifture
Leer en Verbonde 29


Afdeling 29

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, in die teenwoordigheid van ses ouderlinge, te Fayette, New York, September 1830. Hierdie openbaring is gegee ’n paar dae voor die konferensie, beginnende 26 September 1830.

1–8, Christus versamel sy uitverkorenes; 9–11, Sy koms lui die Millennium in; 12–13, Die Twaalf sal die hele Israel oordeel; 14–21, Tekens, plae, en verwoestings sal die Tweede Koms voorafgaan; 22–28, Die laaste opstanding en finale oordeel volg die Millennium; 29–35, Alle dinge is geestelik vir die Here; 36–39, Die duiwel en sy leërskare is uit die hemel gewerp om die mens te versoek; 40–45, Die Val en die Versoening bring heil; 46–50, Klein kindertjies word verlos deur die Versoening.

1 Luister na die stem van Jesus Christus, julle Verlosser, die Groot Ek Is, wie se arm van barmhartigheid versoening gedoen het vir julle sondes;

2 Wat sy volk sal bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak onder haar vlerke, en wel soveel as wat sal ag slaan op my stem en hulle verootmoedig voor My, en My aanroep in kragtige gebed.

3 Kyk, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, dat op hierdie tydstip is julle sondes julle vergewe, daarom ontvang julle hierdie dinge, maar onthou om nie meer te sondig nie, sodat gevare nie oor julle kom nie.

4 Voorwaar, Ek sê vir julle dat julle gekies is uit die wêreld om my evangelie te verkondig met die klank van vreugde, soos met die stem van ’n trompet.

5 Hef op julle harte en wees bly, want Ek is in julle midde, en is julle Voorspraak by die Vader; en dit is sy goeie wil om aan julle die koninkryk te gee.

6 En, soos dit geskryf is—Wat ook al julle sal vra in geloof, verenig in gebed ooreenkomstig my gebod, sal julle ontvang.

7 En julle word geroep om die versameling van my uitverkorenes te weeg te bring; want my uitverkorenes hoor my stem en verhard nie hulle harte nie.

8 Nou, die bevel het uitgegaan van die Vader dat hulle versamel sal word in een plek op die aangesig van hierdie land, om hulle harte voor te berei en voorbereid te wees in alle dinge vir die dag wanneer beproewing en verwoesting uitgestuur word op die bose.

9 Want die uur is naby en die dag is binnekort op hande wanneer die aarde ryp is en al die hoogmoediges en diegene wat boosheid pleeg soos stoppels sal wees; en Ek sal hulle verbrand, sê die Here van die Leërskare, sodat boosheid nie op die aarde sal wees nie;

10 Want die uur is naby, en dit wat gespreek is deur my apostels moet vervul word; want net soos hulle gespreek het, sal dit gebeur;

11 Want Ek sal Myself openbaar van die hemel met krag en groot heerlikheid, met al die leërskare daarvan, en in regverdigheid woon met die mens op aarde ’n duisend jaar, en die bose sal nie staande bly nie.

12 En verder, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, en dit het uitgegaan as ’n vaste bevel, deur die wil van die Vader, dat my Apostels, die Twaalf wat saam met my was in my bediening in Jerusalem, sal staan aan my regterhand op die dag van my koms in ’n kolom van vuur, geklee in gewade van regverdigheid, met krone op hulle hoofde, in heerlikheid net soos Ek is, om die hele huis van Israel te oordeel, en wel soveel as wat My liefgehad het en my gebooie onderhou het, en niemand anders nie.

13 Want ’n trompet sal blaas beide lank en luid, net soos op Berg Sinai, en die hele aarde sal bewe, en hulle sal uitkom—ja, en wel die dode wat in My gesterf het, om ’n kroon van geregtigheid te ontvang, en om geklee te word, net soos Ek is, om met My te wees, sodat ons een mag wees.

14 Maar, kyk, Ek sê vir julle dat voor hierdie groot dag sal kom, sal die son verduister word, en die maan sal in bloed verander word, en die sterre sal val uit die hemel, en daar sal groter tekens wees in die hemel daarbo en in die aarde benede;

15 En daar sal ’n gehuil en geween wees onder die leërskare van mense;

16 En daar sal ’n groot haelstorm uitgestuur word om die oeste van die aarde te vernietig.

17 En dit sal gebeur, vanweë die boosheid van die wêreld, dat Ek wraak sal neem op die bose, want hulle wil nie bekeer nie; want die beker van my toorn is vol; want kyk, my bloed sal hulle nie reinig as hulle My nie hoor nie.

18 Daarom, Ek die Here God sal vlieë uitstuur op die aangesig van die aarde, wat die inwoners daarvan sal aanval, en sal hulle vlees eet, en sal maaiers daarin laat ontstaan;

19 En hulle tonge sal gebind word sodat hulle nie kan uiter teen My nie, en hulle vlees sal van hulle beendere afval, en hulle oë van hul oogkaste;

20 En dit sal gebeur dat die diere van die woud en die voëls van die lug hulle sal opvreet.

21 En die groot en gruwelike kerk wat die hoer van die hele aarde is, sal vernietig word deur ’n verterende vuur, ooreenkomstig soos dit gespreek is deur die mond van Eségiël die profeet wat gespreek het van hierdie dinge, wat nog nie plaasgevind het nie maar sekerlik moet, soos Ek leef, want gruwels sal nie heers nie.

22 En weer, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat wanneer die duisend jaar geëindig het, en mense weer begin om hulle God te verloën, dan sal Ek die aarde spaar vir ’n kort tydjie.

23 En die einde sal kom, en die hemel en die aarde sal verteer word en verbygaan, en daar sal ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wees.

24 Want alle ou dinge sal verbygaan, en alle dinge sal nuut word, selfs die hemel en die aarde, en al die volheid daarvan, beide mense en diere, die voëls van die lug, en die visse van die see;

25 En nie een haar, nóg ’n stofdeeltjie, sal verlore gaan nie, want dit is die werk van my hand.

26 Maar, kyk, voorwaar Ek sê vir julle, voor die aarde sal verbygaan, sal Mígael, my aartsengel, sy trompet blaas, en dan sal al die dode ontwaak, want hulle grafte sal geopen word, en hulle sal uitkom—ja, en wel almal.

27 En die regverdiges sal versamel word aan my regterhand tot die ewige lewe; en die bose aan my linkerhand sal Ek skaam wees om te eien voor die Vader.

28 Daarom sal Ek vir hulle sê—Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewigdurende vuur, voorberei vir die duiwel en sy engele.

29 En nou, kyk, Ek sê vir julle, nooit te enige tyd het Ek uit my eie mond verklaar dat hulle sal terugkeer nie, want waar Ek is, kan hulle nie kom nie, want hulle het geen krag nie.

30 Maar onthou dat al my oordele nie aan mense gegee word nie; en soos die woorde uitgegaan het uit my mond net so sal hulle vervul word, dat die eerste laaste sal wees en dat die laaste eerste sal wees in alle dinge wat Ek ook al geskape het deur die woord van my krag, wat die krag is van my Gees.

31 Want deur die krag van my Gees het Ek hulle geskape; ja alle dinge beide geestelik en stoflik—

32 Eerstens geestelik, tweedens stoflik, wat die begin is van my werk; en verder, eerstens stoflik, en tweedens geestelik, wat die laaste van my werk is—

33 Sprekend tot julle dat julle van nature mag verstaan; maar vir My het my werke geen einde nie, nóg begin; maar dit word aan julle gegee dat julle mag verstaan, want julle het dit van My gevra en julle is verenig.

34 Daarom, voorwaar Ek sê vir julle dat alle dinge vir my geestelik is, en op geen tydstip het Ek aan julle ’n wet gegee wat stoflik is nie; nóg enige mens, nóg die kinders van mense; nóg Adam, jul vader, wat Ek geskape het.

35 Kyk, Ek het aan hom gegee om vir homself te kies; en het aan hom ’n gebod gegee, maar geen stoflike gebod het Ek aan hom gegee nie, want my gebooie is geestelik; hulle is nie natuurlik nóg stoflik; nóg vleeslik nóg wellustig.

36 En dit het gebeur dat Adam, versoek deur die duiwel—want, kyk, die duiwel was voor Adam, want hy het gerebelleer teen My, en gesê, Gee my u eer, wat my krag is; en ook ’n derde deel van die leërskare van die hemel het hy weggedraai van my vanweë hul handelingsmag;

37 En hulle is neergewerp, en aldus het die duiwel en sy engele ontstaan;

38 En, kyk, daar is ’n plek berei vir hulle vanaf die begin, welke plek die hel is.

39 En dit moet noodwendig wees dat die duiwel die kinders van mense sal versoek, anders kon hulle nie hul vrye wil hê nie; want as hulle nooit die bittere gehad het nie kon hulle nooit die soete ken nie—

40 Daarom, dit het gebeur dat die duiwel Adam versoek het, en hy het geëet van die verbode vrug en die gebod oortree, waardeur hy onderworpe geword het aan die wil van die duiwel, omdat hy toegegee het aan versoeking.

41 Daarom, Ek, die Here God, het hom laat uitwerp uit die Tuin van Eden, van my teenwoordigheid, vanweë sy oortreding, waardeur hy geestelik dood geword het, wat die eerste dood is, en wel daardie selfde dood wat die laaste dood is wat geestelik is, wat uitgespreek sal word oor die bose wanneer Ek sal sê: Gaan weg, julle vervloektes.

42 Maar, kyk, Ek sê vir julle dat Ek, die Here God, aan Adam en sy saad gegun het dat hulle nie die tydelike dood sou sterwe nie, totdat Ek, die Here God engele sou uitstuur om aan hulle bekering en verlossing te verkondig, deur geloof in die Naam van my Eniggebore Seun.

43 En so het Ek, die Here God, die dae van die mens se proeftyd bepaal—sodat deur sy natuurlike dood hy opgewek mag word in onsterflikheid tot die ewige lewe, en wel soveel as wat sou glo.

44 En hulle wat nie glo nie, tot ewige verdoemenis; want hulle kan nie verlos word van hulle geestelike val nie, omdat hulle nie bekeer nie;

45 Want hulle het die duisternis lief eerder as lig, en hulle dade is boos, en hulle ontvang hulle loon van hom wat hulle kies om te gehoorsaam.

46 Maar kyk, Ek sê vir julle, dat klein kindertjies verlos is vanaf die grondlegging van die wêreld deur my Eniggeborene;

47 Daarom, hulle kan nie sondig nie, want mag is nie aan Satan gegee om klein kindertjies te versoek nie, tot hulle begin om toerekenbaar te word voor My;

48 Want dit word aan hulle gegee soos Ek wil, volgens my eie welbehae, sodat groot dinge vereis mag word van die hand van hulle vaders.

49 En verder, Ek sê vir julle, dat wie ook al kennis het, het Ek nie gebied om te bekeer nie?

50 En hy wat geen begrip het nie, bly dit in My om te doen ooreenkomstig wat geskryf is. En nou verklaar Ek niks meer aan julle op hierdie tydstip nie. Amen.

Druk